Pastore reël saam ’n uitreikingstentdiens

Die pastore van Atlantis beplan om al hul kerke bymekaar te kry vir ’n gesamentlike uitreikings-tentdiens tussen 26 Maart en 2 April.


Die pastore van Atlantis beplan om al hul kerke bymekaar te kry vir ’n gesamentlike uitreikings-tentdiens tussen 26 Maart en 2 April.

’n Twee duisend-sitplek tent gaan op die perseel langs 7-Eleven in Avondale opgerig word gedurende dié tyd.

“Atlantis bloei. Bendegeweld, moorde en sosio-ekonomiese uitdagings word die norm. Mense het vrae, hulle soek antwoorde. Jesus is die antwoord,” verduidelik past. Sydney Jacobs, een van die organiseerders.

Die gasspreker vir die geleentheid is evangelis Edward Ackerman, ’n gewese bendelid op die Kaapse Vlakte.

“Hy het ’n boeiende getuienis wat hy graag met Atlantis wil deel. ’n Man wat in die lykshuis as dood verklaar was, het vandag ’n brandende hart en ’n passie vir mense wat gebroke, stukkend en verlore is,” voeg hy by.

Vervoer word gereël om mense te karwei na en vanaf die diens. Daar sal ook op Sondag 26 Maart ’n gebedstaptog (prayer walk) plaasvind, waar ’n groep mense vanuit elke area in Atlantis (Protea Park, Robinvale en Saxonsea, ens.) sal stap, almal in die rigting van die tent, waar hulle kan hande vat en saam bid vir Atlantis.

Kerke wat nog betrokke wil raak kan pastt. Lesley Francis 083 954 2223 of Alfred Wagenstroom 073 916 2157 skakel.

You need to be Logged In to leave a comment.