Maande nadat die Peoples Dispensary for Sick Animals (PDSA) sonder ’n verduideliking hul dienste opgeskort het, sê Joshua Swart hy is bly dié diens keer eersdaags terug.
Swart, van Avondale, sê nadat die PDSA verlede November weg is, is daar ’n leemte in die gemeenskap veral wat die welstand van perde betref.
“Perde en rondloperdiere is lank reeds ’n kopseer in die streek,” vertel hy. Volgens Swart word baie diere mishandel, waarvan die meeste perde is. Hy vertel dat perdediewe die grootste sondaars is omdat perde uitgeput raak en dan geslaan word as hulle nie meer kan nie.
Swart het dus ’n niewinsgewende organisasie, Horse Pals, gestig om die gebrek in die gemeenskap aan te pak.
“Mense moet ten duurste nou mediese hulp vir hul diere buite die dorp kry. Nie almal kan dit bekostig nie en dit lei tot groot getalle diere wat vrek,” vertel hy.
“Ons as Horse Pals probeer help waar ons kan, maar kan ongelukkig nie almal se diere red nie. Ek het self na die PDSA se kantoor in Bridgetown gegaan om uit te vind hoekom die diens opgeskort is,” sê Swart.
Personeeltekort en geld was die redes, vertel Swart. Wat hom veral vies maak, is dat die PDSA -mobiele eenheid steeds in ander gebiede besig is. “Ek gaan dit my werk maak om die PDSA terug te kry in Atlantis. Hoe weet ek nog nie, maar probeer gaan ek probeer,” vertel hy.
Dit blyk egter sy passie vir diere en hul welstand is nie tevergeefs nie, want by navraag het PDSA bevestig hulle het planne om na Atlantis en Mamre terug te keer. Intussen wil Swart sy passie met ander jongmense deel.
Hy glo dit sal help om hulle “van die strate af te hou”.
As deel van Horse Pals word die jongspan geleer hoe om met verskillende diere te werk.“Ons het reeds verskeie perde en ander diere se lewe gered en mense kontak ons daagliks oor beseerde diere.
Horse Pals het sowat ’n jaar gelede die lig gesien, omdat so baie kinders ’n perd wil besit, maar weet nie hoe om na die dier te kyk nie.
“Ek het besluit om die jeug te betrek en ’n jaar later het ons baie diere en mense se lewe verander. Wat ons hartseer maak, is as ons sien dat die dier se lewe gered kon gewees het as ons steeds hulp van die PDSA gekry het,” meen hy.