Die eerste fase van die Pella-behuisingsprojek is binnekort afgehandel en inwoners sal dan hul nuwe huise kan bewoon.
Een van die eerste ontvangers van huise is Georgina Boois (75) en haar 70-jarige man Hermanus.
Dié twee het uitgelate gelag toe die lint op 24 Mei, as deel van die amptelike oorhandigingseremonie, by hul erf geknip is.
“Ek kan nie my gevoel beskryf nie, meneer. Ek bly al meer as 50 jaar in hierdie tweeslaapkamer- hokkie en om te dink dat ek my laaste jare in my eie huis kan deurbring. Dit is die grootste geskenk aan my familie. Ek gaan ’n toilet ook hê, iets wat ek al die jare buite moes gaan doen,” het Georgina gesê.
“Inwoners wou ons nie glo nie, maar hier is dit nou ’n werklikheid. Die entoesiasme van die behuisingkomitee verdien krediet,” het proposionele raadslid, Fiona Abrahams gesê.
Elize Appollis, van die behuisingkomitee, sê dat meeste van die begunstigdes bejaardes is en hoop dat die eerste huise klaar sal wees voor die winter verby is.
Johnny Swartbooi van Lawula-konstruksie, het gesê dit neem hul ses weke om ’n huis te voltooi, mits die weer dit toelaat en daar nie onvoorsiene probleme opduik nie.
Met die eerste fase, wat byna dakhoogte is, vorder die projek fluks en die Boois-familie kan hopelik teen vroeg Julie intrek.
“Die projek van byna R20 miljoen vir die 180 huise, behoort teen 2019 voltooi te wees,” het Abrahams gesê. Die eerste fase van 30 sal opgevolg word met fases van 50 huise.