Pella slaggereed vir die topspanne van die Boland

Pella wat hierdie seisoen vir die eerste keer in sy bestaan in die Boland se topliga, die Grootuitdaagreeks, gaan meeding, het sy voorbereiding vir die seisoen goed afgeskop en het twee oortuigende oorwinnings behaal.


Pella wat hierdie seisoen vir die eerste keer in sy bestaan in die Boland se topliga, die Grootuitdaagreeks, gaan meeding, het sy voorbereiding vir die seisoen goed afgeskop en het twee oortuigende oorwinnings behaal.

Afrigter Ruben Abels se span het verlede week die span van die Koue Bokkeveld met 65-5 in ’n wegwedstryd geklop en Saterdag 10 Februarie het die swart en goud weer die span van Young Tigers op sy tuisveld ore aangesit.

Volgens Abels het hy ’n paar van sy sleutelspelers vir eers in “watte toegedraai” en wil nie nou al sy troefkaarte op die tafel gooi nie. Pella het die stryd gemaklik gewen, maar Abels sal beslis ’n paar slapelose nagte hê oor sy spelers se hanteerwerk en besluitneming, iets wat hulle nie teen die topspanne in Boland sal kan bekostig nie. Tigers het die tuisspan deeglik beproef en gewys dat daar beslis nog baie gebreke in die span se verdediging en samespel is.

Bottervingers was aan die orde van die dag met Ashley Noorman as een van die groot sondebokke op die veld, wat soms aanvallende spel laat skipbreuk ly met sy swak hantering. Noorman het wel ’n barshou geskrum en die besoekers het geen teenvoeter vir die tuisspan se skrumwerk gehad nie.

Barry Adonis wat verlede seisoen een van die span se staatmakers was, het weereens bewys dat hy een van Pellapark se darlings is en het die toeskouers op hul voete gehad elke keer as hy aan die bal raak. Barry het nie teleurgestel en sy solodrie van byna 80 m het die skare rasend gehad.

You need to be Logged In to leave a comment.