Die Young Hearts-rugbyklub van Pella het Saterdag byna die onmoontlike teen die magtige melkboere van Darling op laasgenoemde se tuisveld vermag.
Pella was voor die stryd deur doemprofete as te lig in die broek beskryf en voorspellings dat ’n rugbyloesing op die besoekers wag, het behoorlik op sosiale media gegons. Die gaste het egter gewys hy behoort in die grootmensgeselskap en die doemprofete het byna in sy melk verstik.
Young Hearts het van meet af aangeval en het die tuisspan in die eerste 15 minute van sy voete afgespeel om gou met 19-0 voor te loop. Pella het egter momentum verloor en het begin sukkel in die vaste fasette van die spel en die tuisspan wat duidelik die besoekers onderskat het, moes diep delf om terug te veg.
Earl Lewis, kaptein van die tuisspan het van voor gelei. Lewis wat Darling se wedstrydwenner is, het die besoekers op die agtervoet gehou met sy skitterende lynskoppe en het ook baie vrae aan die besoekers se verdediging gevra.
Die melkboere het vinnig herstel van die skok en kon eers in die 20ste minuut op die telbord verskyn. Die tuisspan het vier vinnige drieë gedruk waarvan drie deur Lewis verdoel is om rustyd met 26-19 voor te wees.
Ruben Abels, uitgeslape afrigter van Young Hearts het vier veranderings in die agttal gemaak en die span kon sy man in die vaste skrums staan.
Young Hearts het die tweede helfte teen dieselfde tempo begin en twee vinnige drieë in die eerste vyf minute het Darling se ondersteuners na hul asems laat snak.
Pella wat met 29-26 voor was, kon egter nie die uitklophou plant nie en het verskeie geleenthede om punte te kry verspeel. Darling het egter kop gehou en die een aanval op die ander van stapel gestuur. Rotsvaste verdediging van Pella het egter verhoed dat Darling sy doellyn kan oorsteek.
Pella het egter die wedstryd op ’n skinkbord aan die tuisspan gegee met swak dissipline en verkeerde besluitnemings. Pella se verdediging het laat in die tweede helfte geknak toe die tuisspan met 10 minute van die wedstryd oor die wendrie gedruk het om met 31-29 voor te loop, wat ook die eindtelling was.
Pella het egter moedig probeer terugveg en veral die opwindende Jade Solomons, heelagter, het Darling se verdediging aan flarde geskeur met sy breekslae, maar die span kon nie afrond nie. Barry Adonis, Pella se spoedvraat sal beslis nog lank by Darling spook met sy twee pragdrieë. Elke keer as hy die bal gehad het, het die skare gebrul van plesier.
. Mamre-rugbyklub het na ’n rits teleurstellings weer wenmomentum opgebou toe hy die span van Hopefield Universals met 33 – 28 in ’n vriendskaplike wegwedstryd geklop het. Mamre wat die seisoen goed afgeskop het, het egter in sy laaste paar wedstryde die klits heeltemal kwyt geraak en sal vinnig moet leer hoe om wenkultuur te behou.
. Hamlets kan eenvoudig nie spanne van die Weskus baasraak nie.
Hamlets wat in sy vorige wedstryd teen St. Helenabaai op laasgenoemde se tuisveld vasgeval het, kon egter net die louere met Paternoster deel in ’n wegwedstryd die afgelope naweek toe die spanne met 38 elk gelykop gespeel het.