Pella vryf sout in die span van Langebaan se wonde

Young Hearts van Pella het Saterdag op sy tuisveld die besoekende Langebaan flenters geduik en ’n welverdiende bonuspuntoorwinning van 31-14 behaal nadat die span rustyd reeds met 14-0 voor was.


Young Hearts van Pella het Saterdag op sy tuisveld die besoekende Langebaan flenters geduik en ’n welverdiende bonuspuntoorwinning van 31-14 behaal nadat die span rustyd reeds met 14-0 voor was.

Die eerste 40 minute moes die besoekers keer vir al wat hul werd was en het dissipline die span duur gekos. Lange­baan het goed begin en die tuisspan moes alles in die stryd werp om die besoekers van sy doellyn weg te hou.

Die besoekers moes egter daarna meeste van die tyd in sy eie halfgebied speel. Langebaan het egter, die keer wat hy naby Pella se doellyn gekom het, ’n gulde geleent­heid verbrou toe die span die bal naby die doellyn vorentoe verloor het.

Pella het ook self ’n paar geleenthede om meer punte op die telbord te plaas verbrou. Die tuisspan het die tweede helfte teen ’n vinnige tempo begin en het met die afskop die bal beheer en agter die besoekers se doellyn gaan kuier.

Langebaan wat noodge­dwonge verandering moes aanbring weens beserings, het egter kop gehou en twee verdoelde drieë aangeteken.

Dit het egter die tuisspan aangespoor en die bonuspunt­drie is teen die verloop van spel aangeteken.

Langebaan, wat sterk op die aanval was, het weer die bal binne die tuisspan se kwartgebied verloor en dit het die tuisspan se spoedvrate kans gegee om met die bal te hardloop wat op ’n drie onder die pale uitgeloop het.

Pella het daarna nog sout in Langebaan se wonde gevryf toe hy in die hoekie vir ’n onverdoelde drie oorgeval het om die wedstryd maklik te wen.

Pella het eerskomende Saterdag die moeilike taak om Vredenburg in sy agterplaas te gaan troef – iets wat die opwindende Pella kan regkry as die span tot sy volle potensiaal speel.

. Mamre het sy buurspan ’n groot guns bewys toe hulle die derde geplaaste St. Helenabaai in Mamre met 43-17 geklop het.

Mamre, wat die tweede ronde weer soos die Mamre van ouds rugby gespeel het, het drie van sy laaste vier wedstryde gewen en kan sake nog baie deurmekaar vir die spanne krap. Mamre het met die oorwinning tot die sesde plek gespring en blaas hard in Vredenburg se nek vir die vyfde plek. Mamre geniet die naweek ’n loslootjie, waarna hy Saldanha tuis sal pak.

You need to be Logged In to leave a comment.