Plaaslike pendelaars kon nog altyd op taxi’s staatmaak en dit was die geval nadat honderde van hulle verlede week gestrand was.
Dit kom nadat busbestuurders van die MyCiTi- en Sibanya- busdienste verlede week begin staak het.
Die landwye staking kom ná ’n loongeskil tussen verskeie busmaatskappye en unies. Van Woensdag 18 April onderhandel die partye, maar in die stadium is daar geen aanduiding tot wanneer die staking sal voortgaan nie.
“Daar sal altyd ’n nood vir die taxi’s wees, want hoe sal ons nou by die werk gekom het,” het ’n pendelaar gevra.
“Ons voel saam met die busbestuurders en dis hul reg om te staak, maar kyk hoe moet ons nou rondval,” het ’n ander pendelaar gesê.
Pendelaars het reeds vroeg na die taxistaanplek gestroom om betyds by die werk te wees.
Een taxibestuurder, wat anoniem wou bly, meen dis duidelik dat taxi’s altyd dáár sal wees “al sê die mense wat”.
“Hulle wil ons nie hier hê nie, maar kyk self . . . Hoe sal die mense by die werk gekom het as ons nie hier was nie,” meen hy.
“Die kwessie rakende die voortbestaan van taxi’s is weer opnuut onder bespreking nadat die Kaapse stadsraad alle taxi’s van die pad af wil hê,” sê die bestuurder.
Johanna Amerika het aan Weskus Nuus gesê sy weet nie hoe sy by die werk sou kom as daar nie taxi’s was nie.
“Ons kan altyd op die taxi’s staat maak en hulle is maar altyd hier. Dit gaan lankal nie meer oor wettig of onwettig nie,” sê Pearl Sauls.
“Terwyl die Stad alles in sy vermoë doen om taxi’s van die pad te kry, wat ook maar net vir hul ’n voordeel is, moet ons mense maar self sien kom klaar.
“Ons is maar te bly dat hier taxi’s is wat ons werk toe kan neem. Hulle moet maar doen wat hulle dink is reg. Dit vat ’n bietjie langer om by die werk uit te kom, want hier is baie mense, maar ons sal daar uitkom” meen sy.
Volgens ’n Golden Arrow-woordvoerder Bronwen Dyke-Beye gaan onderhandelinge tussen die maatskappy en die unie voort en word daar gehoop om spoedig ’n ooreenkoms te bereik.
Dyke-Beye sê alle pendelaars wat ’n knipkaart het wat met die staking verval, sal verleng word.
Brett Herron, burgemeesterskomiteelid vir vervoer, sê die staking het reeds baie ongerief vir meer as 72 000 MyCiTi-pendelaars veroorsaak.
Hy sê pendelaars se verskillende pakkette sal verleng word gelyke aan die dae wat die staking duur. Herron se die dae kan slegs bepaal word wanneer die staking verby is.


