“Dit kon soveel erger gewees het.”
Só meen Melisa Isaacs (38) nadat ’n petrolbom Sondagoggend (23 Oktober) douvoordag deur haar kamervenster in Zeelandstraat, Uitbreiding 13, gegooi is.
Sy vertel: “Ek het gelukkig gou wakker geskrik toe ek die geraas hoor, maar ons kon nie veel red nie omdat die brand baie vinnig versprei het.”
Isaacs beweer ’n petrolbom is die vorige Sondag ook na haar kamer gegooi, maar dié bom het buite die huis geland.
Volgens Aesyles Viljoen, die huiseienaar, het Isaacs se vinnige optrede hul lewens gered.
“Ons het alles in die brand verloor en het net die klere aan ons lyf oor. Ek weet nie hoekom my huis geteiken is nie omdat ek nie by bendes betrokke is nie,” vertel hy.
“Ja, ek was ’n tronk-bendelid, maar het reeds jare gelede my aan dié soort lewe onttrek. Ons hoor maar dit gaan waarskynlik oor van my vriende wat hier kom, maar ek kan nie bevestig of dit wel so is nie.”
Viljoen se bure, wat met Weskus Nuus gesels het, bevestig hy het geen verbintenis met bendes nie. “Ons almal het ingespring om die brand te help blus, maar dit het baie vinnig versprei.”