Benito Abrahams (3) se kakebeen moes opereer word.


’n Peuter van Island Place-woonstelblok het Donderdag 27 April ’n noue ontkoming gehad nadat hy in die gesig getref is met ’n baksteen.

Benito Abrahams moes die Saterdag sy derde verjaarsdag in die hospitaal vier, nadat ’n vermeende skollie hom met ’n baksteen raakgegooi het.

Volgens sy ma, Wilda Abrahams, het hulle Donderdag langs die woonstelblok gekuier toe haar suster se gewese kêrel kort-kort na haar geroep het.

“Ek het die jong weggejaag, want hy bly ’n oorlas van homself maak en hy vloek toe op ons en sê, ‘julle gaan nou sien’.”

Volgens Abrahams, het die man, wat na bewering lid van ’n bendegroep is, ’n baksteen opgetel en na hulle gegooi.

Die baksteen het Benito vol in die gesig getref en die verdagte het glo weggehardloop.

“Dokters by Rooikruis-kinderhospitaal het gesê ons is gelukkig want ’n paar millimeter hoër en Benito was dalk nie vandag hier nie.” Die dapper en eens lewenslustige spruit is volgens familielede nou net ’n skaduwee van homself en praat nie juis nie.

Dokters moes opereer en het ’n plaat in sy kakebeen, wat op twee plekke gebreek is, insit. Sy hele mond is ook met drade geheg om alles bymekaar te hou. Hy kan tans geen vaste kosse inkry nie en eet net vloeibare disse soos sop.

Oupa Willie Abrahams sê sy kleinkind is ’n onreg aangedoen en die polisie was nog nie eers by die familie nie.

Lt.kol. André Traut, provinsiale polisiewoordvoerder, het die voorval bevestig en sê ’n klag van aanranding word ondersoek en niemand is nog in hegtenis geneem nie.

You need to be Logged In to leave a comment.