Atlantis se ekonomie gaan eersdaags ’n hupstoot kry met ’n vervaardigingsaanleg wat in die volgende 30 maande deur ’n Tsjeggiese maatskappy hier opgerig gaan word.
Die maatskappy, Pegas, het op 1 Maart aangekondig dat hulle sowat R1,3 miljard gaan belê in die oprig van die vervaardigingsaanleg, wat as Pegas Nonwoven Atlantis bekend sal staan.
Die fabriek sal onder meer nie-geweefde polipropileen en poliëtileen gebruik om produkte soos babadoeke, volwasse doeke en vroulike higiëne-produkte te vervaardig.
Pegas se uitvoerende hoof, Franticek Rezac, het in ’n mediaverklaring gesê die besluit om in Atlantis kamp op te slaan is reeds in Junie 2016 geneem, maar onderhandelings het ’n verdere 18 maande geneem.
“Die grond vir die fabriek is reeds geïdentifiseer en ons hoop om die transaksie so spoedig moontlik af te handel, sodat ons teen einde 2018 gereed kan wees vir uitvoer,” sê Rezac.
Die vervaardigingsaanleg is die grootste buitelandse belegging in vervaardiging wat beleggingsagentskappe Wesgro en Into SA sedert 2011 kon verseker. Tim Harris, uitvoerende hoof van Wesgro, het gesê die belegging is ’n goeie voorbeeld van hoe goed vennootskappe tussen die privaat sektor en regering kan werk.
Volgens Rezac was die Wes-Kaap ’n natuurlike keuse vir die maatskappy om na die Afrika-mark uit te brei, “met die wêreldklas-infrastruktuur en toegang tot die res van die vasteland verskaf dit vir ons ’n geleentheid wat ons nie kon laat verbygaan nie”.
Die fabriek beloof sowat 200 werksgeleenthede vir plaaslikes. Werkers sal ook hul opleiding in die Tsjeggiese Republiek ontvang. Konstruksie van die nuwe vervaardigingsaanleg en opsit van masjinerie behoort sowat 30 maande te duur.
Die maatskappy sê ook hulle gaan gebruik maak van plaaslike handelaars om rou- en boumateriaal vir die konstruksie aan te skaf. Helen Zille, premier van die Wes-Kaap, het Pegas gelukgewens met die vordering van hul internasionale uitbreiding en hulle bedank dat Kaapstad deel van hul reis is na nog groter sukses.
Addisionele bron: www.wesgro.co.za