Plaaslike inwoners gefnuik

Inwoners van Atlantis en Witsand sê hulle is nou keelvol om aan die agterspeen te suig.


Inwoners van Atlantis en Witsand sê hulle is nou keelvol om aan die agterspeen te suig.

Sowat 300 werklose konstruk­siewerkers, vakmanne en – vroue het Vrydag 13 Julie na die bouterrein van Pegas Nonwovens in die industriële gebied van Atlantis opgeruk om hul misnoeë uit te spreek omdat plaaslike inwoners glo nie hiér aangestel word nie.

Die maatskappy het in Maart 2017 aangekondig dat hy sowat R1,3 miljard aan ’n nuwe fabriek in Atlantis gaan bestee.

Na verwagting behoort die finansiële inspuiting 200 direkte werkgeleenthede vir die plaaslike gemeenskap te skep wat met ’n hoë werkloosheidsyfer sit.

Volgens Michael Marote jr. loop hy reeds die afgelope twee maande elke dag na die bouterrein op soek na werk.

“Minibusse met konstruksie­werkers van buite Atlantis word elke dag ingery, maar daar is niks geleenthede vir plaaslike inwoners nie,” het Marote gesê.

Volgens Mishka Ganief, ’n stigterslid van die Atlantis-belangegroep het dié groep tot dié stap besluit omdat meer en meer inwoners begin kla het hulle kry nie werk by die bouterrein nie.

Proporsionele raadslid van die ANC, Fiona Abrahams, wat ook die groep ondersteun en saam na die bouterrein opgeruk het, meen plaaslike raadslede het beslis by die aanstellingsproses ingemeng.

Werkers en aflewerings­voertuie is met die betogings weggewys en niemand was toegelaat om die bouterrein binne te gaan terwyl die beto­gers op die bestuur gewag het nie.

Die groep het ongeduldig geword en die hek na die bouterrein is oopgebreek en daar is geëis dat ’n bestuurder hulle onmiddellik te woord moet staan.

Volgens Mathieu Carpentter, bouterreinbestuurder het hulle slegs die instruksies van die subraadvoorsitter en bestuurder, wat die databasis voorsien het, gevolg. Carpentter sê hy was onder die indruk alle belangegroepe is verteenwoordig. Carpentter het ook aan die groep gesê selfs die aanstelling van die gemeenskapskakelbeampte was op Cynthia Clayton en Wessie van der Westhuizen se aanbeveling gedoen.

Hy het egter erken die pos was nie geadverteer nie.

Volgens Michael Marote, voorsitter van die Atlantis-sakekamer was lede van die sakekamer nie deel van enige samesprekings nie.

Abrahams het namens die betogers gevra dat die proses geskraap word en weer oorgedoen moet word “na gelang van regverdigheid”.

Sy het ook gesê indien dit nie gedoen word nie, sal die inwoners nie ophou om elke dag buite die bouterrein te betoog nie.

Die groep het ook gevra dat die Stad Kaapstad se databasis vir EPWP-werkers nie gebruik word nie, “omdat dit slegs verteenwoordigend is van sekere dele van Atlantis”.

Abrahams het aangevoer dat die departement van arbeid ’n volledige lys van werklose bouers en vakmanne in Atlantis het en het voorgestel dat die kontrakteur hierdie lys gebruik.

Carpentter het die ongelukkiges verseker dat hy die proses gaan skraap en het gesê die pos van mediaskakel­beampte sal ook geadverteer word en het die gemeenskap die versekering gegee dat daar gereeld met hulle vergader sal word.

You need to be Logged In to leave a comment.