Platform om potensiaal te bereik

Atlantis-leerders het ongetwyfeld baie talente en gawes wat nie ontgin en ontwikkel word nie.


Atlantis-leerders het ongetwyfeld baie talente en gawes wat nie ontgin en ontwikkel word nie.

Só meen Carol-Anne Adonis, koördineerder vir die After School Game Changer-program in Atlantis.

Adonis meen dié projek bied aan die jeug die geleentheid om die bose kringloop van armoede en euwels te verbreek.

Met 38 jaar ondervinding in die onderwys het Adonis in 2016 afgetree, maar het sedertdien nog nie ’n dag by die huis gesit nie.

“Ek was die ondervoorsitter van die Wes-Kaapse jeug-kultuurklub en die plaaslike skolekultuur-vereniging. My liefde vir kultuur en kinders het my genoop om as vrywil­liger by die After School Game Changer-program aan te sluit toe dit nog in die beginfase was,” verduidelik Adonis.

Dié projek is reeds in sy derde jaar en Adonis sê sy is tevrede met waar die program nóú is.

“Baie kinders gaan ná skool terug na ’n onveilige of bende-geteisterde woonbuurt. Hierdie program bied ’n veilige omgewing waar leerders hul talente kan beoefen.”

Die After School Game Changer-program met sy 47 fasiliteerders sien om na byna 500 leerders in Atlantis, Mamre en Pella.

“Behalwe die primêre en höerskole in die gebied maak dié program ook gebruik van die vier gemeenskapsale en drie biblioteke om programme aan te bied,” sê sy trots.

Adonis sê dit is belangrik dat die kinders in Atlantis weet dat drome beslis sonder dwelms bewaarheid kan word.

Van die voordele om aan die After School-program deel te neem, is onder meer: Die kinders verlaat die skool nie so vroeg nie, dit bied ’n veilige platform waar kinders hul volle potensiaal kan bereik en volgens Adonis, bied die program ’n positiewe impak op kinders se besluitnemings­vermoë.

Van die programme wat hulle beoefen, is kuns en kultuur, sport sowel as akademiese programme.

“Leerders kan hul talente uitoefen in wat hulle ook al wil doen.”

. Adonis moedig alle ouers aan om hul kinders by die After School Game Changers-program aan te sluit.

You need to be Logged In to leave a comment.