Jy sal gearresteer word as die polisie dwelms of gevaarlike wapens by jou kry.
Sò het kapt. Cyril Dicks, woordvoerder van die Atlantis-polisie, leerders van Saxonsea Sekondêr gewaarsku op die eerste skooldag. Dicks, wat die leerders en opvoeders toegespreek het, het gesê die polisie sal gereeld misdaadvoorko-mingsoperasies by skole doen.
Hy het ook leerders aangemoedig om nie skool te dros nie en die belangrikheid van respek teenoor hul ouers, opvoeders en die skool beklemtoon.
“Hard werk is beslis die moeite werd. Dit kan net tot jou voordeel wees en sal sukses waarborg. Jy hoef nooit ander te blameer as jy nie sukses behaal nie, net jouself,” het hy aan die byna 1 200 leerders gesê.
Dicks het ook klem gelê op die kinderwette en -regte, het aan leerders verduidelik dat hulle reeds vanaf 10- jarige ouderdom in hegtenis geneem kan word, afhangend van hoe ernstig die misdaad is waarvan hulle verdink word.