Atlantis se verkeer is Saterdag 24 Junie tot stilstand gedwing toe meer as 1 500 kinders, polisielede en afgevaardigdes ’n optog van die industriële gebied na die polisiekantoor gehou het.
Genl. Aneeqah Jordaan, hoof van die polisie se Milnerton-kluster, en Abdul Tajoodien,voorsitter van die gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), het die groep gelei om die gemeenskap bewus te maak dat geweld teen vroue en kinders nie meer geduld sal word nie.
Honderde kinders van die polisiekantore in die kluster, wat Milnerton, Tableview, Melkbos, Philadelphia, Atlantis, Darling, Malmesbury, Moorreesburg en Riebeeck Kasteel insluit, het by die veeldoelige sportsentrum in die industriële gebied vergader, waar hulle deur die polisie vermaak is.
Een van die groot trekpleisters op die dag was die sowat 100 motorfietsryers, wat ook die optog begelei het en die Chinese Dragon-dansers, wat vir groot plesier gesorg het.
Elke kantoor met hulle kinders het hulle eie unieke banier gemaak wat in die optog gebruik was, terwyl die polisie se blaasorkes vir musiek gesorg het.
Die tema van die optog was, Noise Against Crime.
“Dit is belangrik dat kinders weet misdaad is nie die oplossing nie. Hierdie is slegs die begin van vele inisiatiewe deur die polisie om kinders betrokke by bewusmakingprojekte te maak,” het Jordaan gesê.
Die funksie is ook deur Kong Yong, die Chinese konsulaat vir Suid-Afrika, bygewoon.
Yong het in sy toespraak gesê die Chinese gemeenskap in Suid-Afrika is bly om by die projek betrokke te wees.
Hy het op sy beurt ook die simboliek agter die duisend jaar oue tradisie van die Dragon-dansers verduidelik en het gesê dit bring geluk en vrede.
Yong het die jongspan gemaan om nie met verkeerde dinge betrokke te raak nie, omdat hulle die toekoms van die land verteenwoordig.
Volgens kol. Niels Nilssen, projekkoördineerder, was die dag ’n sukses en het hulle hulle doel bereik om kinders en die gemeenskap bewus te maak van die gevaar wat misdaad inhou.
Hy sê in baie gevalle noop omstandighede kinders om by verkeerde dinge betrokke te raak en sê polisieforums moet beslis meer betrokke raak en op die jeug fokus om só misdaad te bekamp.