‘Polisie’ laat glo die houe val

’n Man van Sherwood Park, Atlantis beweer polisiebeamptes het hom en sy drie vriende oor Paasnaweek in ’n donker vertrek gegooi en hulle glo aangerand.


’n Man van Sherwood Park, Atlantis beweer polisiebeamptes het hom en sy drie vriende oor Paasnaweek in ’n donker vertrek gegooi en hulle glo aangerand.

Ryno Johannes (33) vertel hy was Saterdag só hard geslaan dat hy in die hospitaal met ’n yslike eiervormige knop op sy kop wakker geword het. Johannes vertel die polisiebeamptes het heeltyd, terwyl die houe geval het, gespot dat hulle besig is om die mans se “Paaseiers” vir hulle te gee.

Sy kopbesering was ernstig genoeg geag dat hy dadelik na ’n Kaapse hospitaal oorgeplaas is.

Johannes voel die aanval was heeltemal ongevraagd. Hy en sy vriende het glo Saterdag “lekker gestaan en gesels” in Sherwoodweg toe ’n polisie­man by hulle stilhou.

Volgens Johannes het die man hulle sommer uit die staanspoor gevloek, toe hy hulle vra om “uit die pad te staan.”

Johannes beweer hy het ordentlik vir die polisieman gevra om nie so minag­tend met hulle te praat nie. Die polisieman het homself glo vervies, hulle gedreig en weggery. ’n Polisievangwa het teruggekeer en die vier mans is glo daarin geboender. “Ons is toe reeds ’n goeie pak slae belowe,” sê Johannes. Daarna is hulle na ’n donker vertrek geneem, waar hulle na bewering deur polisiebeamptes aangerand is. “Ek is nie ’n engel nie. Ek was al in die tronk, maar ek behoort nie aan ’n bende nie,” sê hy. Hy voel ook hy het nie verdien om so wreedaardig aangerand te word, terwyl hy niks verkeerd gedoen het nie. Johannes het nog baie pyn en gaan wag tot sy kop minder dronk voel voor hy dit waag om te stap om ’n saak te gaan maak. Hy voel sterk daaroor dat die skuldiges aan die pen moet ry. Teen druktyd was Johannes onderweg na Milnerton om ’n klag te lê. Kapt. Cyril Dicks, Atlantis-polisiewoordvoerder kon nie vir kommentaar bereik word nie en die stasiebevelvoerder, Micheal Ledimo, het aan Weskus Nuus gesê, die klusterbevelvoerder het alle stasiebevelvoerders “opdrag gegee om nie met die media te praat nie”.

You need to be Logged In to leave a comment.