Die Atlantis-polisie meen hulle maak goeie vordering om beslag op onwettige vuurwapens te lê.
Volgens kapt. Cyril Dicks, Atlantis-polisiewoordvoerder, het die plaaslike polisie reeds 32 mense tussen Julie en September vir die besit van onwettige vuurwapens en ammunisie in hegtenis geneem.
Hy sê ook vuurwapens van so ver as Johannesburg is in die gemeenskap gevind.
Dicks meen ook die verhouding tussen die gemeenskap en polisie het baie verbeter, want meer mense kom navore met inligting en raak betrokke by misdaadvoorkomingsinisiatiewe.
“Die inhegtenisnemings kom na waardevolle inligting wat van gemeenskapslede verkry is. En dit wys daarop dat daar ’n vertrouensverhouding tussen die gemeenskap en polisie is. Maar daar kan meer gedoen word. Geestelike leiers, buurtwagte, jeug en organisasies kan help om ons dorpe ’n veiliger plek vir almal te maak,” sê Dicks verder.
Volgens lt.kol. Micheal Ledimo, waarnemende stasiebevelvoerder by die Atlantis-polisie, sal die soektog na onwettige vuurwapens voortgaan en nooi hy die gemeenskap om hom direk (of ’n polisielid wat hulle vertrou) met inligting by 021 571 8600 te kontak.





