“Atlantis-polisie is net goed om mense aan te rand. Hulle gee nie om of jy oud of jonk of self gebreklik is nie.”
Só meen ’n omgekrapte inwoners nadat 13 jongmans van die Dura-woonstelle onlangs onder polisiebeamptes se vuiste deurgeloop het. Dit is glo net een van die baie gevalle.
Die gemeenskap sê die polisie vra hulle gereeld om te help in die stryd teen misdaad, maar dan is die polisie self die misdadigers.
Volgens Antonio Booysen (27) het sy groep vriende lekker gekuier toe “alle hel losbars”. Hy vertel dat polisiebeamptes in die vroeë oggendure Sondag 15 April hul partytjie met “vuiste kom oorvat het”.
“Hulle het die voordeur heeltemal afgeskop en geskree: ‘Lê op die vloer julle ma se p***’ en gesê ons moet sê waar die guns is. Hoe meer ons skree en gesoebat het, hoe meer klim hulle onder ons in,” sê Booysen.
Hy vertel dat die jongmans almal in ’n vangwa geboender is terwyl hulle die vroue by die kuierplek agtergelaat het. “Die polisiemanne het ons omtrent gekarnuffel. Ek het later aan die polisieman gevra waarom hulle ons party bederf het. Hy het net gesê ons is verdagtes in sake van moord en poging tot moord.”
Volgens Janeen September (40), ma van een van die slagoffers, het sy die volgende oggend gaan hoor waarom die spul toegesluit is.
“Ek moes toe hoor hulle is verdagtes in ’n moordsaak, maar die polisie kon nie sê waar die moord gepleeg is nie. Ek moes maar druipstert huiswaarts keer, want die polisie het geweier om verder na my te luister,” sê September.
Sy vertel woedend dat die span net Maandagoggend “vrygelaat” is sonder om in die hof te verskyn.
September, wat ook ’n gemeenskapswerker in die gebied is, sê daar is te veel klagtes van polisiebrutaliteit. Volgens haar word niks aan die manne in blou, wat hulle aan sulke gedrag skuldig maak, gedoen nie.
Nóg ’n inwoner van Island Place, net bekend as “Klimeid” (61), vertel die polisie het haar ook goed “bygekom”, omdat haar ma die polisie uitgeroep het. Klimeid sê sy was Saterdagaand 14 April ’n “bietjie aangeklam” en erken sy was “onbeskof in die huis”, maar meen die polisie het haar soos ’n geharde krimineel behandel.
“Ek was geslaan en teen die trap afgesleep vertel sy. Ek het ’n saak teen die betrokke beamptes gemaak, maar die J88-vorm (’n mediese vorm waarop beserings aangedui word) het uit die dossier verdwyn,” vertel sy.
Nog ’n familie van Saxon Sea is woedend omdat die polisie niemand ontsien het toe hulle glo die gesin se huis bestorm het op soek na dwelms nie. “Die gemorste het almal laat deurloop en my tweejarige seun, wat op sy ouma se arm was, is ook in die proses raak geslaan. Hy moes mediese behandeling kry,” vertel Florina de Vries.
Sy sê die polisie het geen respek vir mense nie. ’n Verstandelik gestremde seun het ook vermoedelik onder die beamptes se vuiste deurgeloop.
Kapt. Cyril Dicks, polisiewoordvoerder, het bevestig daar word klagtes van aanranding deur verskeie polisielede ondersoek.
Die polisie wou nie verder kommentaar oor die aantygings lewer nie.