’n Saak van aanranding word teen lede van die Atlantis-polisie ondersoek nadat hulle na bewering drie mans aangerand en met traangas gespuit het.
Volgens Marco Bodkin, het hulle nagmerrie begin toe hy en sy vriende Malcom Smiles en Micheal Gomis 1 Maart op pad huis toe was ná hulle in Chatsworth gekuier het.
“Ons het verby ’n ongelukstoneel in die Klein Dassenbergpad gery. Die volgende oomblik, net voor Witsand buite Atlantis, gewaar ek ’n ongemerkte voertuig wat agter my ligte gooi. Ek het gestres, want hier gebeur snaakse goed en ek het aanvanklik gedink dis kapers,” vertel hy.
“Ek het maar voet in die hoek gesit om die ‘kapers’ af te skud.” Hy vertel hulle is skaars by die huis toe daar aan hul voordeur getrap word.
“Polisiebeamptes het oor die muur gespring en aan ons deur getrap. My ma het die deur oopgesluit en wou weet waarom hulle so rumoer. Al antwoord wat sy toe kry, is traangas in haar gesig en een beampte wat vra: ‘waar is die n*** wat die bakkie gery het?’”.
Die aggressiewe polisielede het glo die drie mans agterin ’n vangwa gegooi en dit vol traangas gespuit. Die mans vertel hulle is later geskop en geslaan tot hulle soms hul bewussyn verloor het.
Hulle is met water in die gesig gegooi totdat hulle kon bykom en is net weer verder geslaan. Al drie mans is glo half flou in ’n sel geboender.
Volgens Alfonso Bodkin, Marco se ouer broer, is hy later na die polisiekantoor. Hy meen die manne en vroue in blou het erger as ’n kantien geruik en niemand het naamborde op hul uniforms gedra nie.
Volgens Alfonso is hulle uiteindelik deur ’n vroulike polisiebeampte gesê: “Julle kan maar “f***; hulle drie word van poging tot moord aangekla”.
Bodkin sê hulle is die volgende oggend vrygelaat en het ’n tweede papier ontvang wat sê hulle word weens verset van inhegtenisneming aangekla.
Die drie mans wou ’n saak van aanranding by die Atlantis-polisie aanhangig maak, maar is geweier en moes toe Bellville toe ry om ’n saak teen die polisielede te maak.
Sers. Noloyiso Rwexana, ’n provinsiale polisiewoordvoerder het bevestig ’n saak van aanranding is teen die polisielede aanhangig gemaak.
. Daar word van polisielede vereis om hul naamborde op hul uniforms te dra. Indien hulle nie een aan het nie of in die geval van ’n speurder (wat nie een dra nie), het jy die reg om te vra vir hul naam. Die polisie het ook die reg om ’n voertuig af te trek en te deursoek. Indien jy onveilig voel, mag jy die polisielid vra om saam met jou na die naaste polisiekantoor te gaan om die voertuig daar te deursoek.