Polisielede in die Milnerton-kluster is verlede Woensdag vereer vir hul harde werk.

Die kluster se gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) en polisiebestuurders het toppresteerders vereer by ’n geselligheid by die Shah Zah in Mamre.

Die Milnerton-kluster bestaan uit nege polisiekantore en strek vanaf Milnerton tot Moorreesburg.

Speurkonstabel Nicolette Cloete van die Atlantis-polisiekantoor is by dié geleentheid as die kluster se beste speurder aangewys is.

Volgens haar bevelvoerder, lt.kol. Adolf Jonkers, is Cloete baie passievol oor haar werk en neem sy meer as 90% van verdagtes in sake wat sy ondersoek in hegtenis.

Cloete is soggens eerste by die werk en altyd die laaste een om huis toe te gaan. “Sy het ’n hoë werketiket,” sê Jonkers voorts.

Cloete, wat reeds 10 jaar ervaring het as speurder, sê sy wil net die gemeenskap tot die beste van haar vermoë dien.

“Ek wil net misdadigers laat boet vir hul verkeerde dade en wil hê die gemeenskap moet bietjie veiliger voel,” het sy gesê.

Die skamerige vrou droom sedert haar kinderdae daarvan om polisievrou te wees en sê sy sal haar werk vir niks anders verruil nie. Haar boodskap aan ander speurders en haar kollegas is pligsgetrouheid, toewyding en deursettingsvermoë. “Harde werk betaal altyd en moenie huiwer om die ekstra myl met klaers te loop nie.”

Reserviskonstabel Willem Beukes van Avondale is ook vereer vir sy onbaatsugtige diens in die gemeenskap. Hy is die afgelope 10 jaar ’n reservis by die Melkbosstrand-polisiekantoor, waar hy as die enigste reservis werk.

Beukes het die afgelope drie maande 260 ure aan vrywillige diens afgestaan en het nog elke keer die 35 km tot in Melkbosstrand op sy eie onkoste gereis.

Beukes sê sy agtergrond as sekerheidsbeampte het die belangstelling as reservis aangewakker. Hy sê sy medevrywilligers het een-een bedank, omdat dit vrywillige werk is maar my passie vir die werk het hom laat deurdruk.

“Ek weet nie meer hoe lank ek nog hier gaan wees nie, maar dit sal sekerlik nie nog tien jaar wees nie,” sê hy laggend. Volgens konst. Debbie Alard, polisiewoordvoerder vir die Melkbosstrand-polisie, is Beukes ’n groot steunpilaar en kan daar enige tyd op sy knoppie gedruk word.

You need to be Logged In to leave a comment.