Polisiemanne leer glo ‘hondediewe’ les

“Hulle is erger as die gangsters daar buite,” braak ’n Mamre-vrou gal nadat haar seun glo erg deur twee vermeende polisiebeamptes aangerand is.


“Hulle is erger as die gangsters daar buite,” braak ’n Mamre-vrou gal nadat haar seun glo erg deur twee vermeende polisiebeamptes aangerand is.

Fredwin Solomons (23) beweer dat hy Saterdag 20 Januarie slaan-slaan tot by ’n vangwa gevat is omdat hy na bewering saam was toe twee Amerikaanse veghondjies gesteel is.

Die polisiebeamptes wou glo nie na hom luister nie. Daar is glo nog ’n verdagte saam met hom in hegtenis geneem.

Solomons beweer voorts dat een van die twee polisiemanne, vermoedelik die honde-eienaar se seun, wat met die voorval van diens af was en gewone klere aangehad het, glo ’n sambok by sy huis gaan haal het.

Die geboeide Solomons en die ander verdagte is toe glo na ’n verlate deel van die nywerheids­gebied geneem. Hier is hulle na bewering op hul knieë maak sit terwyl die houe na om die beurt op hulle “neergereën” het.

Solomons beweer ook dat die polisieman in uniform hulle hierna met ’n paal begin slaan het terwyl die “verdagtes” pleit om liewers na die polisiekantoor geneem en aangekla te word. Hulle wou glo nie na verduidelikings luister nie en het blykbaar aan Solomons en die ander verdagte gesê dat hulle klaar skuldig bevind is en dat dít hulle straf is.

Solomons beweer dat hy naderhand sy bewussyn verloor het en dat die twee polisiebeamptes hulle net daar gelos het. Hy het ná die voorval ’n diep sny op sy kop.

Hy het aan Weskus Nuus erken dat hy geen engeltjie is nie, maar hou vol dat hy nie die babahondjies gesteel het nie. “Ek is bereid om my onskuld in die hof te bewys,” sê hy.

Solomons se ma, Janine Jordaan, meen haar seun is “stout”, maar dit gee nie die polisiebeamptes die reg om “soos barbare op te tree nie”. “Hoekom het hulle hom nie gaan toesluit sodat hy sy saak in die hof kan stel nie? As hy skuldig is, moet hy vir sy dade boet.”

Jordaan is bitter omdat sy saam met die polisie werk om misdaad in die gebied hok te slaan en ’n aktiewe lid van die buurtwag is.

Kapt. Cyril Dicks, polisie­woord­voerder, het bevestig dat die onafhanklike polisieonder­soek­direktoraat (Opod) die voorval ondersoek en dat ’n saak van aanranding geopen is.

You need to be Logged In to leave a comment.