Die heerlikste kosreuke het in die lug gehang.
Familie en vriende het Vryheidsdag bymekaargekom en hulle eie weergawe van Laat die Potte Prut by Silwerstroom-strandoord gehou.
Altesaam 16 spanne het teen mekaar meegeding en dit was ’n strawwe stryd vir die beoordelaars om te besluit wie Atlantis se bobaaskokke is.
Een van die organiseerders, Amy Carls, vertel die potjiekoskompetisie was net ’n geleentheid vir familie en vriende om ’n bietjie tyd saam deur te bring.
Elkeen van die deelnemers het hul eie tema gekies en opgetof wat vir groot pret gesorg het.
Die beoordelaars, Melchior Petersen, Shirley Petersen, Johan Genade en Berenice Genade is net gevra om spanne te beoordeel volgens smaak en kreatiwiteit.
Cameron en Amy Carls het derde gekom vir hul skaapvleis- en beesstertpot, Johan en Priscilla Blankenberg het tweede plek verower vir hul beesvleis- en groentepot en die wenners was Aldon en Des Konnight vir hul tamatiebrediepot.
Carls sê hulle wil die potjiekoskompetisie graag ’n gereelde instelling maak, maar beoog om organisasies sonder winsbejag te betrek deur dalk die kos aan hulle te skenk na die afloop van die kompetisie.