Mamre-predikant van die Morawiese kerk Suid-Afrika (MKSA), is op 5 Februarie ingeseën as biskop.
Eerwaarde ridder Rodger Ruiters, is in die plaaslike kerk ingeseën as biskop en word ook outomaties biskop van die wêreldwye Morawiese kerk, ook bekend as die Unitas Fratrum.
Eerwaarde Ruiters het vir sewe jaar diens gedoen as predikant in Suriname en is deur die regering van Suriname tot Ridder geslaan vir die werk wat hy aldaar gedoen het. Hy is vir die afgelope jare ná sy terugkeer uit Suriname aangestel as die uitvoerende leraar in die Mamre-gemeente.
Tydens die MKSA se vierjaarlikse sinode in Oktober verlede jaar te Port Elizabeth, is hy tot biskop van die kerk verkies. Hy het ’n keuse gehad van waar hy graag sy wydingsseremonie wou hê en hy het die historiese dorp, Mamre, gekies.
Die dorp het ontstaan as ’n sendingstasie van die Morawiese kerk in 1808 en die kerkgebou is in gebruik geneem in 1818. Op die geskiedkundige “werf”, wat tot nasionale gedenkwaardigheid verklaar is, is daar onder meer geboue soos die Langhuis, die Watermeul, die Bakhuis, die oorspronklike skoolgebou, die Küpperhuis, die Pastorie, die Akkerhuisie, die eerste skoolgebou en die geskiedkundige begraafplaas. Die Marcussen-orrel en die kerkklok het ook ’n unieke geskiedenis.
Eerw. Ruiters was ook ’n paar jaar gelede in die nuus toe hy aangekla is deur Heritage Western Cape omdat hy na bewering sonder die nodige toestemming ’n geskiedkundige gebou, die Akkerhuisie, wou laat restoureer.
Mamre is ook bekend vanweë berigte dat daar in die 1960’s in die nabygeleë Louwskloof ’n ANC-opleidingskamp was, wat gevestig is deur Looksmart Ngudle en Dennis Goldberg, waar MK-rekrute opgelei is om te marsjeer, ’n kompas te lees, noodhulp toe te pas en elektriese stroombane vir ploftoestelle te maak.