Presidentsbeker wink vir Hamlets

Hamlets en Kuilsrivier sal Dinsdag 24 September op Nuweland sake uitspook vir die Presidentsbeker.


Hamlets en Kuilsrivier sal Dinsdag 24 September op Nuweland sake uitspook vir die Presidentsbeker.

Dié twee spanne het die eindstryd gehaal met oorwinnings oor St. Georges en Bellville op City Park.

Kuilsrivier het Bellville met 36-27 geklop om sy plek in die eindstryd te bespreek. Hamlets, wat ware karakter en veggees getoon het, het die riller naelskraap met 30-28 gewen en die twee spanne sal ook volgende seisoen in die Superliga A speel.

Hamlets het onder afrigter, Gavin Passens, reeds twee keer die Presi­dents­beker gewen en ’n oorwinning Dinsdag sal die beker vir ’n derde keer Mamre toe bring.

Passens, self ’n voormalige Currie-bekerwenner, se span het die seisoen skitterende rugby opgelewer en was onkeerbaar in sy tuis- en wegwed­stryde.

Die span sal volgende seisoen sy buiging vir die eerste keer in die WP se topliga maak waar spanne soos Maties, Ikeys en Valsbaai speel. Hamlets, wat nooit terugstaan vir ’n uitdaging nie, sal beslis goeie rekenskap van homself gee en sal beslis nie die slaansak in die liga wees nie. Weskus Nuus wens Hamlets alle sterkte toe met die eindstryd en die nuwe uitdagings volgende seisoen.

You need to be Logged In to leave a comment.