Prestasies maak van Kyle ’n wenner

Weskus Nuus en SuperSport het Maandag, 5 November, die jaarlikse Let’s Play-wenner aangewys.



Weskus Nuus
en SuperSport het Maandag, 5 November, die jaarlikse Let’s Play-wenner aangewys.

Kyle Doyle (10), graad 4-leerder van Saxonsea Primêr, is vanjaar as Atlantis en die omliggende gebied se sportster van 2018 aangewys.

Die Februarie-wenner, Kyle, het vanjaar die provinsie by die Suid-Afrikaanse atletiekbyeenkoms in Paarl verteenwoordig. Dié kranige atleet het ’n silwer medalje in die 100 m-aflos verower en het ook ’n vierde plek in hoogspring in sy ouderdomsgroep behaal.

Hy het by die WP se atletiek-kampioenskap goud in die 80 m, 100 m, hoogspring én 4×100 m behaal. Danksy sy prestasies het hy sy plek in die Suid-Afrikaanse span bespreek by die Wes-Kaapse kampioenskap in Oudtshoorn. Hiér het hy ook goud in die 80 m, 100 m, hoogspring en silwer in die 4×100 m verower.

Asof hy nie veelsydig genoeg is nie, speel die jong atleet ook rugby en sy gunstelingposisie is senter.

Vanjaar se ander finaliste was: D’ton Johnson (13), Quewin Botha (12), Quwan Plaatjies (12), Jayda Arendse (12), Petriaan Moses (11), Zeah Jansen (13) en Marlin Hardenburg (13).

Die skoolhoof en rugbyafrigter, Reuben Abels, was die gasspreker by die prysuitdeling. Abels het motivering aan die jong sportlui gegee en die finaliste daarop gewys dat dit belangrik vir hulle is om gebruik te maak van die geleenthede wat sport hulle bied.

You need to be Logged In to leave a comment.