Project Dignity het Internasionale Vrouedag op Woensdag 8 Maart in Atlantis kom vier.
Die groep het saam met verteenwoordigers van die Sweedse regering en in samewerking met wyksraadslid Barbara Rass, ’n praatjie oor persoonlike higiëne, die biologie van maandstonde met meisies by Kerria-, Reygersdal-, en Grosvenor Primêr in die dorp gehou.
Die inligtingsessie het aan jong meisies verduidelik watter veranderinge in hulle liggaam plaasvind vanaf puberteit en selfs tot na swangerskap. Die groep het ook Subz herbruikbare sanitêre doekies en broekies aan die leerders uitgedeel, wat deur die Swede geborg is.
Die doekies en broekies kan gewas word en weer gebruik word en is van 100% wol gemaak. Rass het op haar beurt gesê, mense sal nooit besef hoeveel kinders in die dorp nie toegang het tot sanitêre doeke nie. “Hierdie projek doen baie om waardigheid by jong meisies te herstel. Jong meisies moet ook hulself bemagtig om altyd die regte keuses te maak,” het Rass bygevoeg.
Volgens Sue Barnes, direkteur by Project Dignity, bly sowat 7 000 jong meisies afwesig of verlaat skool omdat hulle nie toegang het tot sanitêre doeke nie. Barnes sê voorts, een stel van die omgewingsvriendelike doekies en broekies kan tot vyf jaar hou as ’n meisie dit slegs tydens menstruasie gebruik.