Parkview Primêr is een van drie skole in Atlantis wat deel is van ’n projek om ouers te help om hul kinders met hul skoolwerk te help.
Wordworks is ’n projek wat streef om ouers met vaardighede te bemagtig wat hulle sal help om hul kleinspan by die huis met hul taal- en wiskundevaardighede te help.
Wordworks is ’n nie-regeringsorganisasie wat streef om geletterdheid te bevorder.
Die eerste groep ouers wat die program voltooi het, is Maandag 29 April by Parkview met hul sertifikate vereer.
Die projek het met 39 ouers begin, maar slegs 19 ouers het die program voltooi.
Sessies het reeds in Februarie begin met klasse wat Woensdae aangebied is. ’n Ouer, Shannon Roberts, meen die program het baie opoffering geverg, maar met haar kleinkinders in die skool het sy gevoel dit is belangrik om deel te neem.
“Ek het geleer om die saadjie vir die liefde vir lees by my kinders te plant. My kleindogter het ook baat gevind en vandag geniet sy dit baie om te lees,” vertel Roberts.
Haar plan is om in Junie uit te reik na ander wat nie kleuterskool vir hul kleintjies kan bekostig nie.
Nog ’n ouer, die enigste pa wat deel van die projek was, Graig Goliath, vertel hy het nie veel geduld gehad om sy seun met skoolwerk te help nie, maar Wordworks het hom gehelp. Hy meen hy verstaan nou baie beter hoe om sy seun te help en meen hulle is nou nader aanmekaar as gevolg van die vaardighede wat hy geleer het.
Zenita Claasen, een van die skool se onderwysers, sê dit is nie nodig vir ouers om hulpmiddels te koop nie. Sy verduidelik alles wat ouers nodig het om hul kinders te help, is in en om die huis.
Sy voeg by in die speletjies wat ontwerp is, het hulle self vorendag gekom met wat die beste werk vir hul kind. Besoek www.facebook.com/wordworksSA of hul webblad vir meer inligting oor Wordworks.