Die bestuurder van hierdie taxi het onlangs net buite Atlantis beheer verloor en teen ’n boom gebots. Die voertuig, wat vol skoolkinders en ander passasiers was, se bestuurder word van roekelose en nalatige bestuur aangekla. Foto: Murphy Roberts


Terwyl die onlangse taxi-staking voor die deur van die Stad Kaapstad gelê word, het politieke partye die skuld op die DA-beheerde munisipaliteit en provinsie gepak.

Die drama het gevolg nadat die burgemeesterskomiteelid vir veiligheid en sekuriteit, JP Smit, streng verordeninge aangekondig het oor die beslaglegging op taxi’s en ander voertuie. Die Stad het verduidelik wetteloosheid op paaie sal nie geduld word nie. Bestuurders wat nie geldige permitte of rybewyse het nie of wat onpadwaardige voertuie gebruik, sal die gevolge dra, het die Stad gesê.

Die Stad is ook wyd deur nasionale ministers gekritiseer en as arrogant bestempel. Die burgemeester, Geordon Hill-Lewis, het aan die minister van polisie gesê die Stad gaan nie met misdadigers onderhandel nie nadat Hill-Lewis onder die minister se kritiek deurgeloop het. Volgens Hill-Lewis is inwoners mislei en geen voertuie is onder die Stad se verordeninge afgeneem soos die minister verkondig het nie.

Hill-Lewis het beklemtoon alle beslagleggings is ingevolge die nasionale pad- en vervoer-wet gedoen. Taxi-operateurs was die afgelope tyd in die nuus met verskeie noodlottige voorvalle waarin verskeie kinders en mense dood of ernstig beseer is, het Hill-Lewis bevestig. “Die veiligheid van inwoners van die Stad kom eerste en daarom sal ons die wet streng toepas.” . Die Philadelphia-polisie ondersoek klagtes van roekelose en nalatige bestuur nadat ’n minibustaxi vol kinders en ander passasiers onlangs teen ’n boom gebots het. Volgens polisie is dit onduidelik of die voertuig padwaardig was. Volgens die bevelvoerder is niemand dood nie, maar baie van die insittendes is na nabygeleë hospitale geneem en een passasier moes met ’n helikopter vervoer word.

You need to be Logged In to leave a comment.