Hamlets-rugbyklub het Saterdag 16 Maart die besoekers van Abbotsdale in ’n vriendskaplike wedstryd in Mamre 53-24 geklop.
Die tuisspan, wat rustyd reeds 34-14 voorgeloop het, se vlugvoetige agterlyn het die besoekers aan die raai gehou. Hamlets het van die afskop af oorheers en sy voorspelers het goeie balbesit verseker. Hamlets se skrumwerk, wat weekliks verbeter, het die besoekers ’n les of twee in die skrums geleer en veral die vaskopstut Dine de Kok wat verlede seisoen nog in die groen trui van Mamre gespeel het, het sy hart uit gespeel en is ook beloon met ’n pragdrie toe hy met een van sy kenmerkende stormlopies oorgeval het. Hamlets het die groot skare met die bal in hand met skitterende hardlooprugby vermaak en by tye selfs uit sy eie doelgebied gehardloop. Die besoekers moes die meeste van die tyd verdedig en het swaar in die skrums geleef. Die tuisspan se agterspelers, met die heelagter Isaack Davids, Udean van der Merwe en Dylan Arends het agterlangs vir die tuisspan uitgeblink. Arends het ook twee keer agter die besoekers se doellyn gaan kuier nadat hy die bal telkens onderskep het.
Gavin Passenz, afrigter van Hamlets, kan gerus slaap en met die nodige skaafwerk aan die foute wat die span gemaak het, kan sy span sy stem vanjaar gewis weer laat hoor. Die span het Saterdag op sy tuisveld voortgebou en die span van Wesbank maklik met 53-12 geklop.
Mamre het op sy tuisveld die span van Young Tigers (Darling) behoorlik laat les opsê met ’n goeie oorwinning van 58-3. Die groen truie is besig om ’n wenkultuur te kweek aangesien dit sy tweede goeie agtereenvolgende oorwinning is.
Mamre het Saterdag goeie rekenskap van homself in ’n wegwedstryd teen Darling se Melkboere gegee voordat die wedstryd weens ’n vuisgeveg afgelas is. Mamre, wat 27-31 agter was, kan homself ongelukkig ag dat die stryd gestaak is.
Young Hearts van Pella het op sy tuisveld, die Grafkelder, die span van Piketberg met 57-15 begrawe. Young Hearts se aanvallende jong span verbeter met elke wedstryd en sy karakter sal in die volgende paar wedstryde getoets word.
Die span van Reuben Abels het Saterdag in ’n wegwedstryd teen Abbotsdale 31-48 verloor nadat hy met 20 minute speeltyd oor nog 31-17 voor was. Die tuisspan het 31 punte in die laaste 20 minute aangeteken om die stryd te wen.
Pella pak Darling die komende naweek op sy tuisveld.


