Quwan Plaatjies (12), graad 4-leerder van Protea Park Primêr is Meimaand se Let’s Play-wenner.
Die kranige doelskieter is verlede seisoen na Ajax Cape Town se o.12-proewe genooi en hy het hom sedertdien in die beginspan gevestig.
Quwan het al drie doele vir Ajax aangeteken en speel vir die skool se plaaslike span Leeds.
Volgens hom is hy in enige posisie gemaklik solank hy net sokker kan speel. “Ek gee nie rêrig om wáár ek speel nie, solank ek net kan speel,” vertel hy. Quwan sê hy wil graag eendag ’n professionele sokkerspeler word en wil graag vir die Rooi Duiwels op Old Trafford uitdraf.
Die stil en teruggetrokke speler sê hy praat nie baie nie en verkies om die praatwerk op die veld te doen.