Presies ’n jaar nadat ’n brand miljoene rande se skade aangerig het by die AMC Cookware-fabriek in Atlantis, is die fabriek nou ’n tweede terugslag toegedien.
Besturende direkteur, Ryan Cox, het vandeesweek aan Weskus Nuus gesê, hulle bied ’n R10 000 beloning aan enige persoon met inligting nadat daar oor die eerste naweek in Oktober by die fabriek ingebreek is.
Volgens Cox is daar 40 28 liter Magnum-potte tydens die inbraak gesteel. Hierdie potte het ’n gesamentlike markwaarde van R400 000. In ’n ander voorval is daar ook vyf kookkanne (urns) gesteel met ’n gesamentlike mark-waarde van sowat R30 000.
“Ons personeel wonder nou of daar nog afbetalings gaan wees en of hulle Desember-bonusse gaan kry. Ons het ’n plan gemaak en sal hierdie kostes kan dek, maar ek weet nie of ons nóg ’n terugslag sal oorleef nie,” het Cox bygevoeg.
- Enige persoon met inligting word gevra om James Roets te kontak by 082 052 6937. Besoek gerus www.FB.com/Weskusnuus vir foto’s van die potte.