Inwoners van die Flamingo Park-woonstelblok in die Dura-woonstelle, kan nou weer diep asemhaal.
Sedert Donderdag 17 November was inwoners gedwing om inhuisig te bly of om die enkeldiepte rioolwater by die neus van hul voordeure aan te durf om by die werk of skool uit te kom.
Met Weskus Nuus se besoek Dinsdag het die kinders in die stink rioolwater baljaar asof dit ’n swembad is.
Een van die inwoners, alombekend as Rasta Joseph, sê dit is moeilik om die kinders uit die water te hou en vertel ook hoe hy sedert die vorige week na die raadskantore gaan om hulp.
“Elke keer is ek net teruggestuur met beloftes dat iemand nou sal kom om die verstopte drein reg te maak,” vertel Joseph.
’n Ander inwoner, Elizabeth Steenkamp, vertel sy was die oggend wèèr daar, en is deur ’n vroue-amptenaar toegesnou dat hulle “nie eers rent betaal nie”.
“Omdat ek arm is beteken nie hulle hoef my so te behandel nie.”
Proporsionele raadslid vir wyk 32, Gregchan Barnardo, het Weskus Nuus na die gebied vergesel en was dadelik op die foon met munisipale amptenare. ’n Trok is dieselfde middag na die gebied gestuur en die probleem is opgelos.
Barnardo het voorts gesê dit is onaanvaarbaar dat amptenare inwoners so behandel en dat hy die betrokke amptenaar gaan aankla.
Babara Rass, wyksraadslid vir wyk 32, sê sy het reeds twee mosies by die raad ingedien vir die opgradering van die woonstelle. Rass sê voorts, dit sal beter wees indien die depo weer terugkeer na Atlantis om so dienste te bespoedig en dat sy ’n soortgelyke mosie tydens die volgende raadsvergadering sal indien.