Raadslid passievol oor haar geloof, familie en gemeenskapsontwikkeling

Weskus Nuus-redakteur, Joline van der Merwe, praat hierdie week met Fiona Abrahams van Pella. Sy is deur ’n enkelma en met behulp van haar grootouers grootgemaak. ’n Tekort aan geld het nie haar dors na kennis geles nie. Al het sy talle sertifikate e


Vertel ons lesers ’n bietjie van jouself? Ek is getroud en het ’n dogtertjie van 10 jaar oud. Ek is ’n oupa-en-ouma-kind en het grootgeword met ’n enkelma. My stokperdjies is maar lees en tyd spandeer met my familie en vriende.

Wat is jou posbeskrywing en waar werk jy? Ek is die politieke proporsionele raadslid (PR) vir die African National Congress (ANC). Daar is ’n verskil tussen ’n wyksraadslid en ’n PR: die eenvoudigste verklaring is dat ’n wyksraadslid deur die gemeenskap verkies word deur middel van die plaaslike verkiesing en het ’n begroting wat bepaal word deur die begrotingsrede vir hul wyk. ’n PR word deur hul politieke party gekies – dit word bepaal deur die aantal sitplekke wat die party werf deur die plaaslike verkiesing.

Wanneer het jy besluit om ’n politikus te word? Ek dink nie dis ’n besluit wat ek geneem het nie, dis iets wat oor die jare net eie geraak het aan my as aktivis. Ek was 19 jaar oud en het alles begin in die naam van jeugontwikkeling. Destyds het ons daarin geglo om verniet (sonder beloning te werk). Ons het elke oggend opgestaan, reggemaak en pad toe gestap op soek na ’n saamrygeleentheid Atlantis toe. Hier het ons voor die Wesfleur-biblioteek gewag vir die ander kollegas en dan begin met ons projekte.
Ons het gereelde besprekings gehad oor hoe ons die munisipaliteit kan “forseer” om te sorg dat daar vir jeugontwikkeling begroot word. Ek was deel van ’n radikale groep jongmense wat toe besluit het ons moet georganiseerd wees om druk op besluitnemers te kan sit. Dit was die konsep van die jeugontwikkelingsforums.

Vertel ons van jou akademiese loopbaan. Ek wou baie graag gaan studeer ná skool, maar daar was nie geld nie. Ek moes baie toutjies trek, wat my toe by die rekenaarskool in Worcester laat beland het. Dit was die enigste kollege wat my sou toelaat sonder geld.

Ek het die volgende kursusse na-ure voltooi, terwyl ek voltyds gewerk het. Projektebestuur, nasionale diploma in openbare bestuur van die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie (KSUT). Ek het ook die kursus oor plaaslike regeringsbeleid en wetgewing aan die Universiteit van Weskaapland (UWK) voltooi, asook ’n sertifikaat vir gemeenskapsontwikkeling aan die Noordwes-Universiteit verower. In 2015 het ek my honneursgraad in ontwikkelingstudies aan UWK voltooi, my tesis was getiteld: Volhoubare lewensbestaan: ’n Kritiese analise van die gevolge van die omvattende landelike ontwikkelingsprogram in die Wes-Kaap.

Verduidelik kortliks wat jou werk behels? My werk is om te verseker dat plaaslike dienste aan die gemeenskap gelewer word.

Watter eienskappe maak van jou ’n goeie politikus? Ek probeer altyd beskikbaar wees as die gemeenskap my nodig het. As ek my verbind het aan iets, sal ek alles in my vermoë doen om daarby te bly. Ek is betroubaar en sê as ek niks daaraan kan doen nie.

Wat is van die uitdagings wat jy as vrou ondervind het in jou beroep? Die uitdagings vir my as vrou, is nie so groot soos die uitdagings wat ek oor my ouderdom moes ervaar nie. Ek moes baie harder werk aan die begin van my loopbaan om myself te bewys en om aanvaar te word, veral in die politiek, want ek is gesien as ’n jong vrou met nie genoeg kennis en ervaring nie. Ek was nie deel van politieke aktiwiteite voor 1994 nie, so ek is elke keer daaraan herinner dat ek “nie sal verstaan nie”. Dit was moeilik aan die begin.

Beskryf jouself in drie woorde? Hardwerkend. Lojaal. Liefdevol.

Wat is die sleutel tot jou sukses? Ek bly positief, bid, is opreg dankbaar, vermy negatiewe werkhoudings en mense. Herlaai jouself: Ek gee graag van my tyd en doen goed aan ander, sonder dat hulle dit verwag.

Waaroor voel jy passievol? My geloof, familie en gemeenskapsontwikkeling.

Wie/wat is jou grootste motivering? My dogter en die onontwikkelde geriewe vir jongmense.

Wat wil jy nog graag in die lewe bereik? Ek wil parlement toe gaan en in die kabinet dien as minister van sosiale ontwikkeling.

You need to be Logged In to leave a comment.