Terwyl die regskostes van raadslid Nora Grose reeds meer as ’n halfmiljoen beloop en die kraan steeds vloei, het die stadsvaders eerder besluit om ’n heksejag te begin om te bepaal wie het dokumente uitgelek.
Volgens Brett Herron, sekretaris-generaal van die GOOD-party het hy ’n skrywe ontvang wat bevestig die munisipale bestuurder, Lungelo Mbandazayo, het vir forensiese dienste opdrag gegee om te ondersoek hoe die dokumente uitgelek het. Herron het van die dokumente op 8 September op sy Twitter geplaas.
Herron het in ’n brief die stadsvaders gekritiseer omdat hulle “eerder fokus op wie die dokumente gelek het”. Volgens Herron se skrywe is die dokumente naamloos aan hom verskaf omdat dit oneties van die Stad is om ’n raadslid wat van bedrog en geldwassery verdink word te beskerm. Die drama rondom die kwessie kom nadat noodverligting tydens die Covid-pandemie aan inwoners regoor die Stad Kaapstad verleen moes word. Grose, voormalige Subraad 1-voorsitter en wyksraadslid, het in die warm water beland toe die geld van een organisasie na ’n ander oorgeplaas is en glo nooit vir die doel aangewend is nie. Die Life Changers-kerk het intussen van die geld aan die Stad terugbetaal.
Herron sê die Stad moes eerder owerhede gehelp het in die ondersoek na Grose as om te fokus op waar die dokumente vandaan kom en “om ’n raadslid te beskerm wat dieselfde Stad bedrieg het”. Hy het Mbandazayo ook daaraan herinner dat dit sy wettige en etiese plig as stadsbestuurder is om openbare geld te beskerm soos uiteengesit in die Munisipale Finansiële Bestuurswet. Herron het in ’n verklaring gesê hy kan nie die Stad help in hul ondersoek na wie die dokumente uitgelek het nie. Met Grose se verhoor wat nog nie begin het nie en advokate wat tot haar span gevoeg is, kan die regskostes die miljoen rand oorskry, word wyd bespiegel. Weskus Nuus het ook die dokumente ontvang en kan bevestig die kostes was reeds byna ’n halfmiljoen voor Grose laaste hofverskyning.