Leef om ’n verskil te maak.

Dit was die tema van die vroue- en kinderregte-aktivis en wyksraadslid, Barbara Rass, se jaarlikse Vrouedadag-funksie, wat op 15 Augustus by die veeldoelige sentrum in die industriële gebied gehou is.

Rass het verskeie vroue uit die gemeenskap na die funksie genooi soos pastore Lenie Maya en Hester Moses, Sybil McKenna, tannie Rajap, en andere om aan jong vroue in die saal uit te beeld na wie hulle kan op kyk as rolmodelle.

“Elkeen het ’n spesiale talent. Julle as jong vroue moet navore kom en leierfigure word, volg in die voetspore van dié formidabele vroue,” het Rass gesê.

Sy het ook gesê daar is nie meer tyd om met mekaar te baklei nie. “Ons is nie meer ’n omgeegemeenskap nie, ons staan nie saam nie. Ons deel nie mekaar se pyn nie. Ons moet leer om mekaar lief te hê en om te gee vir mekaar. Liefde begin by jóú!”

Rdl. Grant Twigg, subraad 2-voorsitter, was ook een van die gassprekers tydens dié geleentheid. Hy het op sy beurt gesê vroue celebrate nie genoeg hulleself nie.

“As sterk vroue het julle ook ’n verantwoordelikheid om gemeenskappe te verbeter. Gaan polisie toe en verkla jou man of kind wat met kriminele aktiwiteite betrokke is. Vier elke dag jou vrouwees.”

Ander gassprekers was Abdul Tajoodien, voorsitter van die Milnerton-kluster se gemeenskapspolisiërings-forum en sprekers van die International Women’s Peace Group.

Francis Brown, oftewel, suster Kippie het die gehoor vermaak met haar soet klanke voor almal met middagete bederf is.

Rass het ook lede van die gemeenskap vereer vir hul bydrae tot die bekamping van geweld teen vroue en kinders, waaronder ook Weskus Nuus se verslaggewers.

You need to be Logged In to leave a comment.