Vrywilligers is die beenmurg van die radiostasie.
Sò sê Allister Lightburn, voorsitter van Radio Atlantis, tydens hul algemene jaar- vergadering wat in Desember gehou is.
Tydens die vergadering het Lightburn en bestuurder, Rachel Watson, vir die gemeenskap ’n oorsig gegee van die radiostasie se finansies en daaglikse operasies.
Van die hoogtepunte die afgelope jaar sluit in ’n vennootskap met die kollege om studente in te neem, wat as deel van hul indiensopleiding help met administrasie en ontvangspligte en deur die kollege betaal word.
Die radiostasie is ook meer aktief op sosiale mediums en is nou op Instagram, SoundCloud en Twitter te sien.
“Radio Atlantis was instrumenteel om verskeie belangrike gemeenskapskwessies uit te lig,” sê Watson, wat ook die opleiding van vrywilligers as ’n groot prestasie beskou.
Lightburn het op sy beurt gesê die professionele manier waarop die radiostasie die plaaslike verkiesing gedek het, was vir hom ’n hoogtepunt.
Die ouditeursverslag wat deur die tesourier, Marshall Jullies, voorgelê is, toon dat daar ’n verlies van omtrent R10 000 vir die vorige finansiële was.
Die radiostasie wat verlede jaar 21 jaar gevier het, het ook steeds baie uitdagings. Borge vir isiXhosa-programme asook finansiering vir opleiding en ’n toelaag vir die nuusspan is maar enkele voorbeelde.
In 2017 gaan daar gekyk word na meer plaaslike nuus, die werwing van joerna-listiek-studente om hul internskap hier te doen, asook ’n fokus op ondersoekende joernalistiek.
Watson het afgesluit deur te sê dit is ’n riem onder die hart om te sien hoe jong mense ontwikkel en groei deur die vaardighede wat hulle by die radiostasie aanleer. Sy het ook alle borge, vrywilligers en luisteraars bedank vir hul deurlopende ondersteuning.