Radio Atlantis in spervuur

Die immers gewilde Pink Friday-geselsprogram op Radio Atlantis het onlangs die tonge behoorlik los gehad.


Die immers gewilde Pink Friday-geselsprogram op Radio Atlantis het onlangs die tonge behoorlik los gehad.

Dreigemente is selfs in sosiale media gemaak dat die radiostasie “afgebrand” moet word.

Die drama het Vrydag 16 Augustus ontvou nadat ’n Engelse poniekoerant berig het dat ’n anonieme pastoor hulle glo gesê het die radioprogram, wat deur twee homoseksuele aanbieders aangebied word en oor uitdagings in die LGBTQ-gemeenskap (lesbian, gay, bisexual, transgender en queer) handel, “van die duiwel” is en “van die lug gehaal moet” word.

Die naamlose pastoor het ook aan die poniekoerant gesê die aanbieders Denzil Hatting en Moeriedah ru Moesain bevorder homoseksualiteit.

Hatting, ’n voormalige onderwyser, het aan Weskus Nuus vertel die program “Pink Friday” het drie maande gelede die lig met die seën van die bestuur gesien en gou een van die gunstelingprogramme by die radiostasie geword.

“Dit gaan my verstand te bowe dat die pastoor glo jy kan iemand leer om gay te wees,” het Hatting gesê. “Ons kry baie navrae van luisteraars wat sukkel met hul geslagsidentiteit, maar jy kan nie iemand leer om gay of straight te wees nie,” beklemtoon die aanbieder.

Volgens past. Charles van der Westhuizen, voorsitter van die pastorale vereniging in Atlantis, praat die gesiglose pastore gewis nie namens al die pastore in Atlantis nie. “Die lede van ons vereniging het nie probleme met die program nie,” het van der Westhuizen gesê. “Wie is ons om te oordeel?”

Hy het ook die naamlose pastore genooi om na vore te tree sodat die gemeenskap kan sien wie hulle is.

Dean Goliath, Radio Atlantis se stasiebestuurder, sê ongelukkigheid oor die program is nooit onder die bestuur se aandag gebring nie en hy meen dit is teleurstellend. “Dit is ook ’n bewys dat die sogenaamde pastore lafhartig is en nie die kwessie met hom wil bespreek nie, maar sê hulle moet maar vrede maak want ‘Pink Friday’ gaan nêrens.”

Hatting het verder aan Weskus Nuus gesê dat hy sal voortgaan om vir die manne wat hulself “godsmanne” noem te bid en hy hoop dat die luisteraars sal aanhou luister met begrip na die advies wat hulle voorsien.

You need to be Logged In to leave a comment.