Ras Zebulon en Ras Dan sê hulle voel nou asof hulle geloofsoor­tuigings aanvaar word in die gemeenskap. Foto: Murphy Roberts


Die Rastafariër-gemeenskap is vir die eerste keer vry om hul geloof uit te leef.

Só het lede vandeesweek aan Weskus Nuus gesê ná die konstitusionele hof Dinsdag 18 September ’n uitspraak gelewer het om die gebruik en groei van dagga in jou privaat ruimte te dekriminaliseer.

Adjunk-hoofregter Ray­mond Zondo het met sy uit­spraak gesê hy het interna­sionale wetgewing in ag geneem wat privaat gebruik van dagga by die huis toelaat.

Dit sal nie ’n kriminele oortreding wees vir ’n vol­wasse persoon om dagga in private ruimte te gebruik of in besit te wees hiervan nie.

Maar die hoogste hof in die land het duidelik gesê dagga mag nie in die open­baar gerook word nie. Die hof het ook klem daarop gelê dat handel met dagga steeds onwettig is en gesê die parlement het twee jaar om die betrokke wette te wysig.

Volgens Ras Dan en Ras Zebulon van die Rastafariër-gemeenskap in Atlantis, beteken dié uitspraak dat hulle nou in hul gemeenskap aanvaar word en kan hulle nou ’n groter rol in die gemeenskap speel. Die twee het aan Weskus Nuus gesê dagga word in baie van hul medikasie gebruik en kan net voordelig vir die gemeenskap wees. Janet Smit van die Cape Town Drug Counselling Centre in Atlantis, sê as ’n sentrum wat behandeling bied, fokus hy eerder op verslaafdes as op beleidsvorming, maar erken dat daar ’n aktiewe debat is oor die ontkenning van die gebruik van dagga met sterk en uiteenlopende sienings.

“Om te reageer op hierdie kwessie, is dit belangrik om die gesondheids- en maat­skap­like risiko’s vir gebrui­kers of potensiële gebruikers te balanseer,” het Smit bygevoeg.

Die sentrum sê wel hulle bied gereeld behandeling aan daggaverbruikers wat gesond­heidsprobleme, persoonlikheidsverandering, verlies van motivering en verswakking in akademiese of werkverrigting ervaar as gevolg van hul gebruik.

You need to be Logged In to leave a comment.