Die ses maande in die aanloop tot verkiesings het al kenmerkende gebeurtenisse, soos protesaksies oor behuising of dienslewering, én besoeke van politici.

Met die onlangse opsetlike brand op die splinternuwe St. Helenabaaipad was dit duidelik dat daar mense van buite ook betrokke was.

Die kwessie mag dalk plaaslik wees, maar die aggressie en ongevoeligheid jeens plaaslike inwoners se lewe en reg van toegang het getuig van mense wat nie vir hul medemens omgee nie.

Het die beskadiging van ‘n splinternuwe pad en die keer van ‘n man om sy afspraak vir chemoterapie na te kom werklik die kwessie – behuising op ‘n stuk grond wat al jare gelede vir dié doel aan die Saldanhabaai-munisipaliteit geskenk is – opgelos? Wat was die uiteindelike doel?

Net so kom lê politieke partye se hooggeplaastes plaaslik besoek af, en ken hulle skielik weer die pad na die Weskus.

Nié om met inwoners te kom praat oor kwessies soos gefaalde inisiatiewe, onnagekome verkiesingsbeloftes of die toesmeer van plaaslike munisipale amptenary se mislukkings nie.

Nee, dit is bloot ‘n beeldpoetsery, ‘n oefening in rat-voor-die-oë-draai.

Sommige partye verkies weer om kiesers se gemoedere kunsmatig in ‘n staat van onsteltenis te hou met onbewysbare “aantygings” teenoor Die Ander in elke situasie wat daarvoor misbruik kan word.

Maar mense wat alles vir soetkoek opeet gee seker nie om om as giftoetsers misbruik te word nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article