Die sekerheidswag van Atlantis met ’n lys klagte teen hom wat onder meer verkragting en poging tot verkragting insluit, is vir eers vry.
Die saak teen die vermeende misdadiger is glo deur die landdros uitgegooi omdat daar op die betrokke dag nie ’n Sotho-tolk beskikbaar was vir die hofverrigtinge nie.
Die klagtes van verkragting spruit uit ’n voorval waarin die verdagte glo verlede Junie ’n 32-jarige vroulike kollega wat saam op nagskofdiens was, by die werk verkrag het.
Weskus Nuus het verlede jaar berig dat ’n vroulike wag op Dinsdag 26 Junie 2018, terwyl sy besig was met patrollies, ná 02:00 by ’n fabriek in die nywerheidsgebied oorval is.
Die verdagte het glo haar hande en voete met skoenveters vasgebind voor hy haar verkrag het. Hy het vermoedelik ’n week later op ’n ander nywerheidsperseel toegeslaan en dieselfde modus operandi is herhaal met ’n ander vrou. Volgens die slagoffers het die verkragter ’n masker gedra.
Presies ’n week ná die tweede aanval het die vermeende reeksverkragter weer toegeslaan en probeer om ’n derde vrou te verkrag. Sy het daarin geslaag om die masker af te pluk en hom glo herken as die sekerheidswag van ’n nabye fabriek.
Twee van die verkragtingslagoffers sê hulle is teleurgesteld in die regstelsel en die landdros. Een van die vroue vertel sy moes sedertdien uit haar werk bedank weens die trauma van die voorval. “Ek sien die man elke dag in die lokasie en wonder wanneer hy weer gaan toeslaan of wie is volgende,” sê sy.
Die vrou sê sy probeer antwoorde by die Atlantis-hof kry, maar sonder sukses. “Niemand kan vir my sê wanneer die saak weer op die hofrol geplaas sal word nie. Dit is alweer twee maande wat die man vry buite rondloop.” Die vroue vrees ook dat die man kan verdwyn en nooit aan die pen sal ry nie.
Ander klagtes wat ook teen die man aanhangig gemaak was, is twee van ontvoering, twee van gewapende roof met verswarende omstandighede en aanranding.
Eric Ntabazalila, woordvoerder van die nasionale vervolgingsgesag, het bevestig dat ’n Sotho-tolk by die vorige hofverrigtinge was, maar nie die spesifieke sitting kon bywoon nie weens siekte. “Die landdros wou niks verstaan van die saak uitstel nie en het die saak voorlopig van die rol gehaal,” het hy bevestig.