Inwoners van Atlantis braak behoorlik gal oor hul waterrekeninge wat die hoogte ingeskiet het ná die nuwe waterbeheermeter ingestel is.
Inwoners kla dat die meters lek en hulle kry byna niks van hul daaglikse kwota water nie. Tog kry hulle steeds skrikwekkende hoë rekeninge soos nie eers inwoners van Constantia kry nie.
Die nuwe waterbeheermeter is ingestel sodat water bespaar kan word om die gevreesde Dag Zero te verhoed, maar “dis alles ’n klug”, sê een van die moedelose inwoners.
Volgens Mishka Ganief, kampvegter vir die gemeenskap van Atlantis is dit regtig hartseer, want die mense weet nie wat volgende op hulle wag nie.
Ganief vertel verder dat sy Vrydag verteenwoordigers van die waterkrisiskoalisie van die hulpbronsentrum in Kaapstad ontmoet het oor moontlike regstappe teen die stad.
Shaheed Mahomed, waterkrisiskomiteelid, sê die meter is nie verpligtend nie, maar nou word mense deur die stad gedwing om dit te laat installeer.
Mahomed reken ook daar is baie korrupsie rakende die meter, want vorige amptenare het die tender vir die verskaffing en installasie daarvan gekry. Hy sê ook regstappe teen die stad is onvermydelik.
Volgens Muldrid van Staden in Avondale Atlantis, was hulle met optrede deur wetstoepassing gedreig as hulle nie die meter wil laat installeer nie.
Van Staden vertel haar rekening is nou ’n R9 800 nadat sy voorheen slegs R370 per maand betaal het. Inwoners van Atlantis het op sosiale media uitgevaar oor hul rekeninge. Een beweer sy rekening is byna R80 000 terwyl die meeste inwoners se nuwe rekeninge meer as R5 000 beloop. Volgens Ganief het pensioentrekkers ook enorme rekeninge ontvang.
Volgens Simon Maytham, woordvoerder van die Stad Kaapstad se mediakantoor, het hy tans geen antwoorde nie, maar hy volg dit by die betrokke departement op.