Robinvale wen toernooi

Hoërskool Robinvale het by die African Bank-sokkertoernooi in Nyanga gewys sport is gesond in Atlantis.


Hoërskool Robinvale het by die African Bank-sokkertoernooi in Nyanga gewys sport is gesond in Atlantis.

Die skool se seun- en meisiespanne het skoonskip gemaak onder hul mededingers.

Die toernooi het oor drie dae van 24 tot 26 November by die Nyanga-stadion plaasgevind en slegs o. 16- en o. 18-spanne kon deelneem.

Robinvale het geskiedenis gemaak toe die skool se o. 18-seuns en o. 18-meisies met die louere weggestap het. Die seunspan het in sy eerste wedstryd die span van Westridge met 2-0 kafgedraf, maar het daarna teen Modderdam met 0-1 vasgeval.

Die span het behoorlik al sy kragte gebruik in die uitklopwedstryde en het die span van Hector Petersen met skoppe (4-2) van die strafmerk geklop vir ’n plek in die eindstryd. Die eindstryd het ware veggees en karakter gekos, want die skool was vinnig twee doele teen die span van Westridge agter.

Robinvale het egter vasgebyt en die stryd met 3-2 gewen, danksy doele deur Roy-Keane Avontuur en Llewelyn Jacobs (2).

Die meisiespan van die skool het ’n allemagtige 29 doele in sy vyf wedstryde aangeteken, waarvan Ronica Moses, 16 keer die agterkant van die net gevind en slegs twee doele afgestaan het.

Bloekom Bos het behoorlik deurgeloop onder Moses se vernuftige voetwerk met 11-0 en 12-0. Sy is ook welverdiend, as die topdoelskieter van die toernooi aangewys.

Die eindstryd teen Ravensmead was baie opwindend en Robinvale het die stryd met 3-1 gewen. Die skool het ook skoonskip gemaak met die pryse en Austin Klaasen is as die seunsdoelwagter van die toernooi gekroon, terwyl Llewelyn Jacobs as speler van die toernooi gekroon is. Die seunsafrigter, Lewis Klaasen en Amelia Milligon, die meisiespan se afrigter, is albei as die afrigters van die toernooi aangewys.

You need to be Logged In to leave a comment.