Rowan Hermanus pas nadat hy die goue medalje in die Suid-Afrikaanse Para-tafeltenniskampioenskap (C3) in Bloemfontein verower het.Foto: Verskaf


Die 22-jarige parapleeg Rowan Hermanus het die afgelope naweek die goue medalje by die Suid-Afrikaanse Para-tafeltenniskampioenskap in Bloemfontein gewen.

Rowan is sewe jaar gelede ernstig in ’n skolerugbywedstryd beseer en is sedertdien in sy onderlyf verlam. Die ywerige sportman het egter nooit opgegee nie en verlede jaar by die Top Table-tennisklub in Belhar aangesluit, waar hy vroeër die jaar sy provinsiale klere verwerf het.

Rowan het slegs een wedstryd in die toernooi verloor toe hy in die groepfase vasgeval het, maar het mooi teruggeveg tot in die eindstryd waar hy sy teenstander, die verdedigende kampioen, met twee stelle teen een geklop het.

Die oudrugbyspeler oefen drie keer ’n week by die Rebecca van Amsterdam-saal onder die wakende oog van Lesley Burt.

‘Ek droom van goud by die Paralimpiese Spele in 2024, maar baie harde werk lê nog voor,” sê hy. “Ek sal eers genoeg wêreldranglyspunte moet bymekaarmaak om te kwalifiseer en beoog om aan soveel moontlik internasionale toernooie deel te neem om dit moontlik te maak.”

Rowan sê sy korttermyndoelwit is om vir die volgende Afrika- en wêreldkampioenskappe te kwalifiseer en “dan die grote”.

“Ek dra die Suid-Afrikaanse titel trots op aan my pa wat ons ’n jaar gelede ontval het, en my ma wat rotsvas agter my staan,” sê Rowan. “Ek sou moeilik sonder my familie se ondersteuning deurgekom het. Veral my pa, Roland, se motivering ná die voorval sewe jaar gelede sal my altyd bybly.” . Enigiemand wat Rowan finansieel kan ondersteun om die hoogste sport te bereik kan hom by 082 947 7954 bel.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 11 November 2025
    WeskusNuus E-Edition – 11 November 2025