’n Vermeende rower het Woensdag 28 Junie sy Moses teëgekom toe inwoners van Robinvale hom kaal uitgetrek het en hom na bewering geslaan het tot hy flou word.
’n Video-opname van die aanranding is wyd op sosiale media versprei. Volgens ’n ooggetuie, het die rower en twee makkers na bewering twee meisies van hul selfone beroof.
“Die inwoners het een van die rowers vasgetrek terwyl die ander twee weggekom het en alle hel het losgebreek toe die rower ’n pak slae kry,” vertel die ooggetuie.
“Hy het soos ’n baba geskree terwyl die houe met ’n houtpaal op hom gereën het en het aanhoudend geskree dit is nie hy nie.”
Inwoners van Robinvale sê hulle is keelvol vir die “jongens” wat onskuldiges elke keer beroof en hulle moet iets doen sodat die jongens kan sien “hier word nie gespeel nie en ons sal sommer self met hulle afreken”.
Volgens nog ’n inwoner, wat ook nie genoem wil word nie, het hy die rower jammer gekry en die ontstoke slaners gevra dat die man weer sy klere kan aantrek. Die rower is per ambulans van die toneel verwyder en na Wesfleur-hospitaal geneem vir behandeling. Inwoners het opgeruk na die ander twee verdagtes se huis, maar die twee het laat spaander toe hulle die oproerigheid sien.
Een van die selfone is teruggevind.
Volgens kapt. Cyril Dicks van Atlantis-polisie, het die vermeende rower nie die aanranding by die polisie aangemeld nie.