Shoprite (ou U Save) in die Wesfleur-sentrum het Sondag 16 Junie onder inbrekers deurgeloop.
Die inbrekers se daad het tot heelwat drama gelei toe werknemers Maandagoggend 17 Junie vir ure buite die gebou moes staan terwyl die polisie se honde-eenheid die skurke uitgesnuffel het.
Die inbrekers se planne om die winkel in die nagtelike ure te beroof, is deur ’n wakker veiligheidswag en die alarm in die wiele gery. Die polisie is ontbied, maar en van die inbrekers het vir ure wegkruipertjie in die dak van die winkel gespeel.
Lede van die polisie se honde-eenheid is ontbied, maar intussen het die kwaaddoener probeer om die winkel aan die brand te steek, glo in die hoop om te ontsnap.
Alhoewel baie bespiegel word oor presies hoeveel inbrekers daar was, is ’n 34-jarige man in hegtenis geneem terwyl minstens een ander inbreker ontsnap het.
Volgens kapt. Cyril Dicks, ’n polisiewoordvoerder, het die inbreker in ’n stadium aan die polisie gesê daar is nog twee inbrekers in die winkel, maar die polisie kon nie nog verdagtes opspoor nie.
Met Weskus Nuus se besoek aan die toneel, het omstanders bespiegel dat die twee moontlik dood is weens die rook, maar dit was van alle waarheid ontbloot.
Die brandweer en nooddienste was gou op die toneel en die brand het nie baie skade aangerig nie.
Volgens Dicks is slegs een verdagte aangekeer.