Dis nie net die kinders wat eksamen skryf nie …
Toe ek sowat tien jaar gelede klaar studeer het, het ek regtig gedink my dae van eksamenstres en leer is verby.
Maar, toe kom die kinders – kinders wat eerder elke verskoning onder die son sal uitdink om nié voor die boeke in te skuif nie – verskonings soos die honde wat nog nie aandag gekry het nie. Of “ons moet nog ons kaste regpak …” – iets waaroor ek al maande soebat.
Die eksamenrooster is die eerste tyding dat pyn en lyding op pad is.
As dié rooster eers sy plekkie teen die yskasdeur ingeneem het, is ons sosiale lewe vir die volgende drie weke vir eers verby.
Die eetkamertafel word in ‘n tydelike klaskamer omgeskep, skryfbehoeftes word aangevul en ek begin sommer saam met die kinders Bio-strath drink (dis veiliger as wyn!) ter voorbereiding vir wat kom.
Dan volg die eksamen-afbakening van wat die kinders moet leer en sodra ek besef dat die vorige kwartaal se werk deel is van dié kwartaal se leerwerk vir die komende eksamen, kry ek hartkloppings en sweet slaan oor my lyf uit.
My kind kan nie eens onthou vir wie hy gister sy pen geleen het nie, wat nog te sê van die werk wat hy die vorige kwartaal geleer het.
Dan maak ons maar wéér flitskaarte wat selfs teen die toiletdeur geplak word, want skielik word dit een van die gunsteling-uithangplekke gedurende die eksamen.
Dan vir die beplanning: Watter vakke het die meeste leerwerk en watter dae bestee ons aan watter vak?
Dankie tog as daar ‘n vakansiedag of naweek tussen-in val, sodat ons darem ‘n vraestel of twee kan uitwerk.
My foon se galery het nou plek gemaak vir Jan van Riebeeck, oplossings en skeurbuik-foto’s asook video’s van hoe druiwe in wyn verwerk word.
Sodra ons lekker op dreef is, sal my kind egter uit die bloute vir my vra of ek weet wat Jannie of Sannie vandag by die skool gedoen het? Dan besef ek dadelik – dis weer tyd om ‘n ruskans in te pas, want iewers het ek hom langs die pad verloor.
My stembande word ook tot die uiterste beproef – nie noodwendig sodat die bure sáám kan leer nie, maar omdat ek probeer om die werk te verduidelik vir kinders wat onderstebo teen die bank lê of die koffietafel as gewigte gebruik om spiere vir rugby te bou. Dis mos hoe hulle ‘n verduideliking vir alles kry, behalwe die vak waaroor hulle môre moet skryf.
Hierdie is ook ‘n tyd van onderhandelinge: Hoeveel leertyd vir soveel rustyd (en as jy met jou tone of die hond gespeel het, of dalk vir die sestigste keer yskas toe geloop het, tel dit blykbaar nie).
Elke vak se persentasie word dan aan ‘n randwaarde gekoppel. Vooraf word dus somme gemaak, want ek moet bereken hoeveel dit my uit die sak gaan jaag vir die hoeveelheid kode 7’s.
Buite die skoolhek bespiegel ouers watter langvrae gevra gaan word en watter leertegnieke die beste vir hulle werk. Ons praat mekaar moed in en tel saam die slapies af totdat ons almal weer rustig saam ‘n koppie koffie sal kan gaan drink.
Die kinders skryf altyd soggens eksamen en kry daarna vrye tyd wat in die klas gebruik kan word om van die volgende dag se leerwerk onder die knie te kry.
Dit is juis in hierdie tyd dat my kind sy kunsvaardighede beoefen deur die wonderlikste potloodsketse te teken of te kom vertel hoe oulik die leesboek is wat ek al laasjaar vir hom gekoop het – geen teken dat hy enigsins gedurende klastyd geleer het nie.
Tog is die eksamen ook ‘n herinnering dat hierdie nog ‘n hoofstuk is wat ons bevoorreg is om die pad saam met ons kinders te stap (of te sweet), om te sien hoe hulle groei en te besef dat tou-opgooi nooit ‘n opsie is nie.
Al kom die hele huishouding tot stilstand, word aandetes vir vinnige kitsetes verruil en staan ons saam met die hoenders op om vir oulaas die sleutelwoorde en opsommings deur te gaan, is dit tog uiteindelik die moeite werd, want harde werk word met ‘n goeie rapport beloon.


