Alida Buckle
Tot die bodem toe, ‘n rubriek deur Alida Buckle

Met Vrouemaand in gedagte, is daar een benarde situasie waarin baie meisies en vroue hulle een keer per maand bevind, en dit is swaar menstruelebloeding (SMB) wat soms so erg is dat dit ‘n vrou se normale dagtake ontwrig.

Volgens Natroceutics raak SMB miljoene Suid-Afrikaanse vroue.
Ek onthou self die tye wat pynpille, ‘n warmwatersak en die fetusposisie al was wat my tienerlyf en later jongvroulyf ‘n bietjie vertroosting kon bring. En baie sjokolade. Vir die een of ander rede was dit al wat dié tyd, wat elke maand klokslag gebeur het, draaglik gemaak het.

Mamma het verstaan en gepamperlang by die huis, maar in die koshuis was daar geen uitkoms nie. Pouses moes ek en my medelyers maar in die son sit en ons pyne bespreek.

Mans wil gewoonlik nie weet of hoor van dié soort goed nie, want dit maak hulle erg ongemaklik.

Weet net, as ‘n vrou regtig ly, dat dit nie aansit is nie.

Hoewel dit vroue se lewensgehalte en produktiwiteit belemmer, bly vroue dit nie maklik by werkgewers aanmeld nie – of aan hul naastes nie, want daar is net te veel wat gedoen moet word.

Die Annals of Medicine & Surgery het onlangs bevind dat SMB 10-30% van Afrika-vroue erg raak.

Van die moontlike oorsake kan bloedarmoede wees.

Navorsing van African Health Sciences toon dat meer as 30% van vroue met SMB, bloedarmoede het, wat die ernstige en dikwels onsigbare las van vroue in Suid-Afrika vererger.

SMB word gedefinieer as menstruele bloedverlies wat meer is as wat as normaal beskou word. Benewens die fisieke tol (die pyn!) “ontwrig dit emosionele welstand en sosiale lewe”.

Gewone daaglikse take raak te veel en skoolkinders se sportdeelname kan daaronder ly.

Baie vroue verduur onreëlmatige siklusse en groot bloedklonte, maar stel uit om hulp te soek as gevolg van kulturele stigma, lae bewustheid van die probleem en ‘n tekort aan geld vir ‘n doktersbesoek.

Sleutelrisikofaktore sluit volgens Natroceutics hormonale wanbalans, baarmoederafwykings, infeksies, swak voeding en stres in.

African Health Sciences se oorsig beklemtoon ook beperkte toegang tot gespesialiseerde gesondheidsorg, wat lei tot vertraagde diagnose en behandeling.

SMB se impak kan gesien word op vroue se daaglikse lewensgehalte. Hulle bly moeg, ervaar verstandelike afstomping, angs en verminderde produktiwiteit.

Die probleem word egter selde in openbare gesprekke bespreek, ten spyte van die diepgaande uitwerking op hul daaglikse lewe en werk.

‘n Belangrike gevolg van SMB is ystertekort.

Aangesien vroue elke siklus meer yster verloor as wat natuurlik vervang kan word, ontwikkel hulle ystertekort-anemie.

Dit verklaar ook die simptome soos chroniese moegheid, swakheid, hoofpyn, kortasem en afstomping wat op sigself weer konsentrasie verminder, buierigheid vererger en prestasie in die huis, werk en skoolomgewing nadelig beïnvloed.

Vanessa Ascencao, ‘n gesondheidsen welstandkenner, raai vroue met swaar menstruasie, moegheid of anemie-simptome aan om gesondheidsorgpersoneel te raadpleeg. Vroue kan proaktief ystertoetse (insluitend ferritien) laat doen.

Daarbenewens moedig Ascencao vroue aan om leefstylmaatreëls te tref, soos gebalanseerde voeding, stresbestuur en, waar toepaslik, die gebruik van natuurlike, klinies bewese ysteraanvullings.

My vriendinne weet al van mý ysterstropie. As ek dit nie neem nie, sukkel ek met ál die bogenoemde simptome.

Ek dink terug aan my menstruasiedae en die pyn en lyding en is waarlik bly dat ek nie meer daarmee hoef te sukkel nie.

Maar my hart gaan uit aan almal wat nog daardeur moet gaan.

Ek sien hoe my eie dogter ly en sien my vriendinne se tienerkinders erg deurloop.

Dis soos verskeie ander “vroueprobleme” waaroor nie gepraat word nie. Dit is seker nie meer nodig vir vroue om steeds in vandag se dae te “suffer in silence” nie?

Moenie die jong vroue leer om hul welstand te onderdruk sodat die “vertoning” maar net kan aangaan nie.

Vroue moet na hulself omsien. As jy elke maand krul van die pyn, laat toetse doen. Daar is heel moontlik ‘n uitkoms.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 11 November 2025
    WeskusNuus E-Edition – 11 November 2025