Young Hearts van Pella het sy voorbereiding vir die Boland-Grootuitdaagbeker goed afgeskop.
Die tuisspan het die besoekers, Delicious van Clanwilliam, verlede Saterdag 2 Maart met 41-22 geklop nadat die besoekers rustyd met 7-5 voor was.
Pella, met vele nuwe gesigte in die span, het in die eerste helfte gesukkel om sy ritme te vind, maar het ten spyte van sterk skrumwerk te veel hanteerfoute begaan.
Reuben Abels se span moes ook in die eerste helfte met net 13 manne speel nadat die skeidsregter twee spelers met geelkaarte afgestuur het. Die besoekers, wat steeds nie sy stempel kon afdruk nie, het die tuisspan se verdediging tot die uiterste beproef.
Pella se nuwe gesigte het gesukkel om die span se spelpatroon gewoond te raak, die span het egter in die tweede helfte by tye goed saamgespeel en die besoekers moes keer vir al wat hy werd is.
Die tuisspan het die skare behoorlik getrakteer met aanvallende rugby en het ses drieë teenoor die besoekers se twee gedruk. Met die seisoen wat eers in April begin, het Abels baie tyd om sy kombinasies reg te kry.
Pella het Saterdag 9 Maart Young Tigers van Darling in ’n wegwedstryd met 84-14 afgeransel nadat hy rustyd reeds 54-0 voor was en pak eerskomende naweek Piketberg tuis. . Hamlets, wat in die Westelike Provinsie-liga speel, het ook sy voorbereiding op ’n wennoot begin toe Gavin Passens en sy troepe die span van Atlantis-rugbyklub Vrydag 1 Maart in Mamre met 57-0 geklop het. Hamlets, wat die voorseisoen goed in die voorafgaande sewestoernooie gevaar het, se wedstryd teen Darling Saterdag 9 Maart is gekanselleer en die span pak dié naweek Morning Star in Mamre.. Mamre het ná twee nederlae sy ritme gevind en die span van Atlantis Saterdag 9 Maart behoorlik met 70-10 afgeransel. Mamre se afrigtingskorps kan tevrede wees met die groen truie se vertoning. Dié span kan met selfvertroue uitsien na die res van sy voorbereidingswedstryde. Die span geniet eerskomende naweek ’n blaaskans waarna hy Darling in ’n wegwedstryd sal aanvat. . Atlantis-rugbyklub sal sy sokkies baie vinnig moet begin optrek. Dié span sal baie gou ’n eenheid moet vorm en sy spelpeil moet lig.