Rugby uit die boonste rak

Mamre-rugbyklub het Saterdag 16 Junie byna die rugbyskok van die seisoen gelewer toe die groen truie die onoorwonne Pella vir 80 minute met een voet in die graf en een voet op die veld gehou het.


Mamre-rugbyklub het Saterdag 16 Junie byna die rugbyskok van die seisoen gelewer toe die groen truie die onoorwonne Pella vir 80 minute met een voet in die graf en een voet op die veld gehou het.

Die riller van ’n derby is deur die tuisspan Pella met 26-23 gewen en beide spanne het alles in die stryd gewerp om dié wedstryd te wen.

Die spanne het aanskoulike rugby gespeel en die stampvol sportterrein was by tye doodstil soos ondersteuners hul asems opgehou het.

Pella het egter die belangrike bonuspuntoorwinning verseker met rotsvaste verdediging, maar Mamre se wedstrydwenner, Edwill Okkers, het die groen truie in die wedstryd met sy geleerde skopvoet gehou. Okkers het die besoekers eerste op die telbord geplaas met ’n suksesvolle strafskop van meer as 50 m.

Pella se darling, Barry Adonis, het egter kort daarna die ondersteuners laat juig van lekkerte toe sy spoed te veel vir die besoekers was vir ’n drie. Ondersteuners het geglo Pella se agterlyn sou te veel vir die besoekers wees, maar Mamre het die tuisspan daarna vir elke punt laat sweet.

Die wipplankstryd het van die een helfte van die veld na die ander gewissel en slegs goeie verdediging aan beide kante het verhoed dat een span die oorhand kon kry.

Mamre het ook die tuisspan behoorlik in die vaste skrums en lynstane opgekeil.

Die spanne het gaan water drink met Pella wat met 19-13 voor was en die tafel was vir die tweede helfte gedek. Pella, wat steeds onoorwonne is, en Mamre, wat steeds wenloos is, het beslis een van sy beste wedstryde tot dusver gespeel en dit is moeilik om te glo dat die span sy eerste punt Saterdag gekry het met die verloor van minder as sewe punte. Pella het Saterdag teen Saldanha met 10-21 op laasgenoemde se tuisveld vasgeval.

Mamre sal met vertroue uitsien na die res van die seisoen en pak Paternoster 30 Junie aan terwyl Pella ’n loslooitjie het.

. Hamlets het 16 Junie ’n vernederende nederlaag van 3-44 teen Franschhoek op laasgenoemde se tuisveld gely.

Hamlets wat voor die stryd twee goeie oorwinnings behaal het, sal egter vinnig van die vernedering moet vergeet aangesien die WP se liga net oor een ronde bepaal word weens die waterkrisis wat die seisoen laat, laat begin het.

Die span het Saterdag 23 Junie Kraaifontein met 25-19 geklop.

You need to be Logged In to leave a comment.