Hy het drome om eendag die Springbokke te lei.

Die kranige rugbyspeler Diego Storm (19) is ’n gebore leier en het reeds verskeie skole en provinsiale spanne tot bekerglorie gelei. Diego het reeds begin werk aan sy droom, maar ’n tekort aan geld kan dalk sorg dat dit net ’n droom bly.

Volgens Dean Storm, ouer broer van Diego, moet hulle binnekort R15 000 bymekaarmaak sodat Diego by die Haaie se akademie in Durban kan gaan studeer.

Dean, wat ’n belangrike rol as afrigter in sy jonger boetie se loopbaan gespeel het, sê Diego is reeds aanvaar, maar hy moet self vir sy studies en blyplek betaal, wat sowat R50 000 beloop.

Dean is ook reeds vyf jaar by skolerugbyafrigting betrokke en sê hy wil eers net seker maak sy broer is op koers, dan wil hy ook sy afrigting na die volgende vlak neem.

Die rugbygogga het Diego reeds in gr. 2 gebyt en daarna was daar geen keer aan die talentvolle speler nie. Diego se leiding op die veld het nie ongesiens verbygegaan nie en hy het Robinvale se o. 15-span twee jaar agtereenvolgens tot Vuka-kampioene gelei en as 17-jarige het hy ook die o. 19-span twee keer tot kampioene gelei. Sy grootste erkenning was toe hy die kaptein van die Westelike Provinsie o. 15-span by die Iqhawe-week in 2013 was. Diego, wat senter en flank kan speel sê hy gee nie om watter posisie hy speel nie, solank hy net sy passie op die veld kan uitleef.

You need to be Logged In to leave a comment.