Sê ja vir sport en nee vir dwelms en bendes!
Dit was die duidelike boodskap wat aan sowat 400 laerskoolkinders, wat Saterdag aan die eerste Atlantis Skole-rugbyfees deelgeneem het, gegee is.
Volgens een van die organiseerder, Johannes Herman, was die dag ’n reusesukses. Hy is ’n lid van die Atlantis-rugbyontwikkelingplan, wat deur die jaar rugbyklinieke aangebied het.
“Die doel van die fees was om ouer en kind saam op die veld te kry, want ouers werk deur die week en kan nie hulle kinders in aksie sien nie,” sê Herman.
Volgens die organiseerders bewys die twee meisiespanne wat op die veld te sien was, dat daar beslis nog belangstelling in rugby is.
Spanne van Wesfleur-, Kerria-, Saxonsea-, Reygersdal-, Grosvenor- en Hermes Primêr het in die volgende ouderdomsgroepe deelgeneem: o. 7-, o. 9-, o. 11- en o. 13-seuns en -meisies.
Saxonsea het skoonskip gemaak met die ander skole, maar Wesfleur se meisiespan het oor hulle geseëvier.
Die laaste wedstryd van die dag was tussen die Wes-Kaapse Barbarians en Atlantis Legendes. Die legendes, wat deur Jonathan Blankenberg afgerig word, het die besoekers maklik met 48-27 geklop nadat hulle met rustyd 10-17 agter was.
Volgens Blankenberg gaan die span weer komende Saterdag uitdraf. Die teenstaanders sal later aangekondig word.
Herman sê hulle gaan nou fokus op somerkampe vir die skole en hoop dat die sportdag volgende jaar sommer groter en beter gaan wees.